Twee kry lewenslank na moord op boer

court-hammer_thumbTwee mans is Vrydag in die hooggeregshof in Pietermaritzburg tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op Peter Hackland, ʼn boer van Ixopo.

Nkosinathi Mngadi (29) en Sifiso Ngubane (23) is vroeër daaraan skuldig bevind dat hulle die 61-jarige Hackland op 13 Junie 2013 doodgeskiet het en sy dogter Louise Hartwig, en sekretaresse Margaret Fennel, aangerand en beroof het.

Regter Portia Poyo-Dlwati het Mngadi en Ngubane tot lewenslange tronkstraf gevonnis sowel as ʼn bykomende 23 jaar tronkstraf. Sy het gesê die erns van die aanval en die belange van die gemeenskap oortref enige van die versagtende omstandighede wat deur die verdediging aangevoer is. Poyo-Dlwati het gesê sy hoop die vonnisse sal enige eendersdenkende kriminele afskrik.

Die moord op Hackland het tot gevolg gehad dat 60 mense sonder werk sit en nie hul families kan ondersteun nie. Hackland se vrou het die plaas verlaat en bedank uit haar onderwyspos in Ixopo en na Pietermaritzburg verhuis.

Die hof het vroeër gehoor dat Hartwig binne die huis besig was toe sy haar pa buite hoor skree het. Sy het ondanks die feit dat daar gewapende mans was, na buite gehardloop en op die verdagtes geskree. Hulle het haar terug in die huis in geneem en aangerand voor hulle haar gedwing het om die kluis oop te sluit. Hackland is in die huis doodgeskiet. Poyo-Dlwati het gesê Hartwig was baie braaf en het haar pa probeer red. Hackland was nou betrokke in sy gemeenskap en het plaaslike gemeenskapslede bygestaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

monika ·

En so gaan al ons boere van die plase af vertrek. Jammer vir die boere wat nie anders kan as om te boer nie. Sterkte dankie dat julle vir ons kosbare mense nog kan sorg.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.