Twee kry lewenslank vir KZN-plaasmoord

Green se familielede in die hof. Foto: Lorraine Claasen

Green se familielede in die hof. Foto: Lorraine Claasen

Die familie van die boer, Timothy Green, wat op sy plaas vermoor is, is verheug nadat sy moordenaars Dinsdag in die hooggeregshof in Pietermaritzburg tot lewenslange tronkstraf gevonnis is.

Green (44), ʼn deeltydse boer en bestuurder van die Shanduka-steenkoolmyn, is op 11 Augustus 2013 op sy plaas in Newcastle doodgeskiet. Ondanks kopwonde wat hy opgedoen het, het Green sy vriende gebel en hulle gevra om die polisie en nooddienste te ontbied. Toe hulp opgedaag het, was hy reeds dood.

Drie mans, Thulani Kubheka, Siyabonga Mhlungu en Mfanukhona Masiteng is twee dae ná sy moord in hegtenis geneem. Kubheka het tydens die verhoor skuld beken op aanklag van moord en is tot lewenslange tronkstraf plus 15 jaar gevonnis vir sy aandeel in die moord, waarna hy vir die staat getuig het.

Kubheka het tydens die verhoor getuig dat Masiteng twee dae voor die moord aan hom gesê het hy wil Green vermoor en sy voertuig aan ʼn taxibestuurder in Ladysmith verkoop.

Lorraine Claasen, kriminoloog en navorser by AfriForum, het Dinsdag se vonnisoplegging bygewoon.

Claasen het aan Maroela Media gesê Mhlungu en Masiteng is elk tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir Green se moord. “Hulle is ook tot altesaam 40 jaar tronkstraf gevonnis op aanklagte van huisbraak, roof, die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie en beplande diefstal,” het Claasen gesê. “Hulle kan eers ná 25 jaar tronkstraf aansoek doen vir parool.”

Sy het gesê die familie verwelkom die swaar vonnis en is dankbaar dat die tweejaarlange nagmerrie verby is.

Lees alle vorige berigte oor Timothy Green op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gideon Bakkes ·

Die haat en aanval op vreemdelinge herhinner aan Kristal nag toe die Nazies joodse winkels vernietig het.

San ·

N geliefde is dood, die menere gaan nou verder lewe op ons belastingeld……… die doodstraf moet weer terug gebring word…….n oog vir n oog en n tand vir n tand, anders gaan dit net nooit ophou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.