Die burgerregtegroep AfriForum sê twee mans wat tydens die inperkingstyd vir oortreding van die afsonderingsregulasies in hegtenis geneem is, is intussen in die hof op die aanklagte teen hulle kwytgeskeld nadat AfriForum by die sake ingegryp het.
AfriForum sê hy het die twee mans, wat in afsonderlike voorvalle in hegtenis geneem is, in die belang van geregtigheid in die toetssake ondersteun.
In die eerste geval is ʼn man in hegtenis geneem nadat die polisie hom afgetrek en sy voertuig deursoek het. Hoewel hy die nodige permit by hom gehad het, is hy vir ivoorverwante oortredings gearresteer toe ʼn paar ou koedoehorings in sy voertuig se kattebak gevind is.
Die ander man is in hegtenis geneem omdat hy sigarette in sy besit gehad het.
Die sake teen albei is intussen laat vaar.
“Dit is ’n reuseoorwinning vir die burgers van Suid-Afrika teen die onredelike gedrag van lede van wetstoepassingsowerhede tydens die inperking, wat agter kwansuise oortredings van die inperkingsregulasies verdoesel word,” het Marnus Kamfer, regs-en-risikobestuurder by AfriForum, gesê.
AfriForum gaan albei mans nou help om siviele eise teen die betrokke owerhede in te stel en meer spesifiek teen die onderskeie lede wat hulself aan dié magsvergryp skuldig gemaak het.
“Die polisie het sy lede tydens die inperkingstydperk gemaan om met groot omsigtigheid met inhegtenisnemings te werk te gaan. Lede is ook gewaarsku dat hulle persoonlik verantwoordelik gehou sal word vir enige koste wat die polisie moet aangaan weens siviele eise wat ten gunste van verontregtes teen die polisie ingestel sou word.
“Ons wil graag sien dat die betrokke lede les opsê pleks daarvan die belastingbetaler die spit moet afbyt weens lede se onverantwoordelike gedrag,” het Kamfer gesê.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
10 Kommentare
S K I T T E R E N D !!!
Ek betaal my AfriForum bydrae elke maand met ‘n glimlag.
Dit sal baie gaaf wees as die skuldige polisie lede self moet opdok (nie dat ek oortuig is dit gaan gebeur nie). Dit moet ook sommer baie gebeur dat lede kan besef hul egos en houdinkies kan hul letterlik duur te stane kom.
Puik idee – hou die skuldiges in hul persoonlike hoedanigheid aanspreeklik.
Dís die tipe sake waarmee Afriforum eintlik moet help. Nie “staatsgreep” sake in Botswana en ‘n dieremishandelingsaak teen ‘n minister nie. Gee dáárdie sake eerder vir Lawyers for Human Rights. Solank afriforum sulke lekker hoëprofielsake hanteer, kry hulle seker al die lekker”limelight”, maar intussen raak die geld al hoe minder en op ‘n dag dan is dit OP en dan sukkel ons mense éérs onder regstellende aksie, BEE, onregmatige inhegtenisnemings, plaasaanvalle ens ens.
In hegtenis geneem omdat hy sigarette besit het? Dit was juis die belaglikste van die sogenaamde tabakverbod: Dat dit ʼn verbod op handeldrywing was en nie ʼn verbod op besit of rook self nie. Hy kon dit mos present gekry het. Of laasjaar gekoop het.
En ʼn koedoehoring? Die goed word wit geverf en ten duurste as dekorasie van die hand gesit. Wettiglik. Hy kon mos maar sy kattebak versier het.
Die SAPSe kan seker nie meer lees nie.