Twee landdrosklerke vas wat spookeise indien

geld 7

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto)

Twee klerke verbonde aan die departement van justisie is beboet nadat hulle skuldig gepleit het op aanklagte van diefstal.

Patricia Nobantu Xaki (58) en Victoria Noyolo (54) het in die Mthatha-handelshof in die Oos-Kaap skuldig gepleit op die aanklagte teen hulle, terwyl nóg ʼn beskuldigde, Kholosa Qupha (57), die aanklagte teen haar ontken.

Volgens kapt. Yolisa Mgolodela, woordvoerder van die Valke, het die departement ʼn klagte ingedien oor die bedrieglike bedrywighede van klerke by die Mthatha-landdroshof. Die klerke het onderhoudslêers vir fiktiewe mense geskep en onderhoud ten bedrae van R700 000 aan hulself oorbetaal.

“Ná ʼn deeglike ondersoek is drie klerke van die departement in April vanjaar in hegtenis geneem. Xaki, Noyolo en Qupha het dieselfde dag in die hof verskyn waar hulle op waarskuwing vrygelaat is,” het Mgolodela gesê.

Hoewel die saak by verskeie geleenthede uitgestel is, het Xaki en Noyolo verlede week skuld beken. Hulle is dieselfde dag nog gevonnis.

Xaki is ʼn boete van R6 000 of drie maande tronkstraf opgelê. Sy is ʼn verdere vyf jaar tronkstraf opgelê wat opgeskort is op voorwaarde dat sy nie in hierdie tyd aan dieselfde misdryf skuldig bevind word nie.

Noyolo is ʼn boete van R15 000 of ses maande tronkstraf opgelê en ook ʼn bykomende vyf jaar tronkstraf opgelê wat opgeskort is.

Qupha, wat onskuldig op die aanklagte gepleit het, sal op 30 November weer in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Pablo ·

Anc skurke agter elke bos maar die party verkondig dit aan die wereld dat hulle gaan dit na 30 jaar gaan stop sit.

Androclus ·

Dis net jam wat hulle om ons smeer dan dink hulle ons ons monde aflek.Dit sal nooit gebeur nie.

Nie Verbaas ·

So wat is nuut in die ANC? Dit is mos normaal om “regstellende ontrekkings” te maak. Dit is mos hulle reg.

Dries ·

Ramaphosa se kaders. Hy is mos voorsitter van sy kaderntplooings komitee. Hy het mos aan Zondo gese dat dit noodsaaklik is om sy kaders te ontplooi

JM ·

Gaan die diewe die R700 000 terugbetaal? Daarvan word niks gesê nie. ‘n Mens voel om op te gooi as jy al hierdie gemors aanhoor, want dit hou waaragtig net nie op nie!

Swerwer ·

ANC ploeg voort. Hul leer hul volgelinge hoe om dit te doen, pleks hul skrik wakker en doen iets om die land te stabiliseer. Maar nou ja met so ‘n Regering is daar weinig hoop.

Misky ·

En word die R700 000 terug betaal? En met rente? Hulle betaal daai boetetjies lag-lag en gaan maar net voort

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.