Twee leerders verdrink tydens rugbytoer

Foto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Twee leerders van ʼn skool in Kempton Park, Gauteng, het Sondag verdrink terwyl hulle op ʼn rugbytoer in Durban was.

Dít net ʼn paar dae nadat die toer, wat gedurende die skoolvakansie gehou is, aan die kus afgeskop het.

Die Gautengse departement van onderwys sê leerders van die Hoërskool Birchleigh het Donderdag in Durban aangekom vir ʼn rugbytoernooi wat net ʼn week lank sou duur.

Sondagoggend het die leerders en van die onderwysers na die Durban-noordstrand gegaan om af te koel.

Lewensredders moes egter later die dag ʼn aantal leerders uit die see probeer red. Toe die onderwysers wou bevestig dat al die leerders teenwoordig is, het hulle opgemerk dat twee leerders, een in gr. 10 en ʼn ander in gr. 12, vermis is.

“Die ander leerders is na hul verblyfplek vergesel, terwyl van die onderwysers voortgegaan het om die strand en die omliggende gebiede te fynkam vir die twee vermiste leerders,” sê die departement.

“Die soektog het tot die aand geduur, maar sonder enige sukses. Die onderwysers het toe ʼn vermistepersone-saak by die Durban-polisiestasie aanhangig gemaak.”

Volgens die departement is die onderwysers Maandag in kennis gestel dat die liggame van twee seuns aangetref is, sowat 2 km noord van die strand waar die groep die dag deurgebring het.

Die polisie ondersoek nog die omstandighede rakende die voorval.

Panyaza Lesufi, die Gautengse LUR vir onderwys, sê die departement het reeds beraders na die skool gestuur. Die berading sal voortgaan sodra die leerders van Durban af terugkeer.

“Dit is ontnugterend dat ʼn positiewe skooluitstappie waaraan ons leerders deelgeneem het op so ʼn tragiese manier geëindig het,” sê Lesufi.

“Ons betuig ons innige meegevoel met die twee gesinne en die breër skoolgemeenskap.”

Die twee leerders was onderskeidelik in Birchleigh en Tembisa woonagtig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Kobus ·

Hierdie alewige toere! Wens dit wil gestaak word. Nou is die onderwysers in die moeilikheid. Ons was almal kinders en veral seuns is seuns. Waaghalsig. Klink of die hele groep in die moeilikheid was. Innige meegevoel en sterkte aan die maats en onderwysers

Loun ·

Hoekom dit staak Kobus, van my beste herinneringe is van toere deelneem en lekker kuier.
Opvoeding is die begin…..

Johanna ·

Baie tragies dat binnelandse skoolkinders die GROOT DAM se kragte nie ken nie en dan verdrink. My innige simpatie..

Anel ·

Kinders in Nederland mag op GEEN uitstappie gaan alvorens hulle nie ‘n sekere swem diploma graad geslaag het nie, en dit us van 4 jarige ouderdom. Die swemlesse is verpligtend en die staat betaal. Ons woon in ‘n wonderlike sonskyn land en dit is ondenkbaar dat kinders nog steeds nie waterveilig is nie. Maar nou ja, ek dink baie is maar bang vir water en probeer braaf wees tussen ander maats en dan gebeur ongelukke.

Mieke ·

Ek dink nie dis ‘n kwessie van nie kan swem nie, maar eerder dat hulle nie die see geken het nie… en hulle is deur onverwagte seestrominge vasgevang … So jammer vir die ouers…. ‘n Ongeluk gebeur in’n oogwink.

Wondermaarnet ·

Agge nee dit is so hartseer. Dit gebeur so vinnig en die arme ouers wat agterbly het soveel vrae. Sterkte aan die families en mede spelers.

Elize ·

As ‘n kind nie kan swem nie is dit ‘n ouer se eie slegtigheid. Die elemente is niemand se maaitjie nie. Ons Valies ken nie die see nie en kinders is ongehoorsamig. Ek sal nie toere stop nie maar sal vereis dat kinders moet kan swem. Ek sal ook nie kinders see toe vat nie. Die risiko is te hoog. Daar is baie ander oorde met swembaddens en jou beheer as onderwyser oor die kinders is beter.

Claudette ·

Ek sal glad nie my seun op toere stuur see toe nie. Hy kan wel swem maar die see is onvoorspelbaar en ons ken dit nie. Hy is ook baie waaghalsig.

Swerwer ·

Ag, al die jare was daar skool toere en sport byeenkomste, sulke voorvalle was uiters seldsaam want daardie jare was dissipline en respek nog geldig en het die kinders die Onderwysers en hul Ouers gerespekteer . Nou is daar Beraaders wat moet probeer om alles toe te pas. Die ou lewe het regtig in ‘n bitter taai toffie ontaard na die wesens oorgeneem het.

Casper ·

Lesufi skors die onderwysers en die hoof want dit kan jy mos goed doen of is hulle van our people.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.