Twee lewenslank tronk toe vir moord op Vrystaatse boer

(Argieffoto: pixabay)

Twee mans is Woensdag in die hooggeregshof in Bloemfontein tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op ’n boer.

Phaladi Shuping, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Vrystaat, sê die twee mans, Themba Dakile (29) en Sipho Nhlapo (27), van die Phahameng-nedersetting naby Frankfort, is elk effektief tot lewenslange tronkstraf gevonnis. Hulle staan tereg op aanklagte van roof en moord op die boer, Johannes Mazibuko (71). Nhlapo staan ook tereg op die moord van een van Mazibuko se veewagters.

Mazibuko is verlede Julie op sy plaas in die Frankfort-distrik vermoor. Sy dogter het op sy lewelose liggaam by sy krale op die plaas afgekom. Sy keel was oopgesny.

Die liggaam van die oorlede veewagter is reeds ’n maand tevore gevind.

Mazibuko se veewagters het die twee beskuldigdes vermoedelik ná die voorval gewaar terwyl hulle 89 van sy bramaanbeeste probeer steel het. Die veewagters het die mans gekonfronteer.

Die beskuldigdes het in verskillende rigtings gehardloop waarna die veewagters hulle agternagesit en ingehaal het. Hulle het Nhlapo voorgekeer en die polisie is ontbied. Die mans is in hegtenis geneem.

Mazibuko se liggaam is daarna gevind.

“DNA-monsters is geneem en Mazibuko se bloed is op die broek wat Nhlapo tydens sy inhegtenisneming aangehad het, gevind,” sê Shuping.

“Nhlapo het ook die moord op Mazibuko en sy veewagter bevestig. Hy het egter nooit skuldig gepleit nie.”

Volgens Shuping het die staatsaanklaer, adv. Nqwenelwe Mazwi, gesê die beskuldigdes kon geen bewyse verskaf wat hulle vryspreek nie.

“Hulle het al die staat se bewyse betwis sonder om hul onskuld te bewys. Oorweldigende bewyse is teen hulle aangevoer.”

Shuping sê Mazibuko se dood het sy familie tot armoede gedryf.

“Hy was die broodwinner. Sy vrou en kinders is werkloos. Die familie het ná sy dood al die beeste verkoop. Hulle was bang die beeste word ook geslag, nes hul pa.”

Shuping sê Mazwi het aangevoer dat die beskuldigdes deur gierigheid gedryf is toe hulle die misdade gepleeg het.

Regter Celeste Reinders het met Mazwi saamgestem dat die beskuldigdes se optrede wreed en onmenslik was. Sy het ook gesê lede van die gemeenskap maak staat op die hof om hulle teen misdaad te beskerm.

Dakile is tot lewenslange tronkstraf vir die moord op Mazibuko en 15 jaar vir roof met verswarende omstandighede gevonnis. Nhlapo is tot twee keer lewenslank gevonnis vir die moord op Mazibuko en sy veewagter asook 15 jaar vir roof met verswarende omstandighede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Persheks Adri ·

Uiteindelik gebeur iets. Mag dit ‘n boodskap stuur vir die klomp wat so moor en roof! Mag hulle NOOIT parool kry nie. Ons is afhanklik van die boere en hoe vinniger die klomp dit besef hoe beter anders sit ons almal sonder kos

SomeOne ·

geensins van die fonnisse skrik misdadigers af nie, want hulle lees nie en hoor ook nie hiervan nie

Rooijan ·

Dit moet lewenslange hardepad wees. Klippe kap, min kos hulle moet letterlik soos slawe behandel word. Tot die dag dat hulle self doodgaan. Daar moet gereeld artikels hieroor gedoen word vir televisie sodat voornemende misdadigers kan sien wat vir hulle wag.

Piet parys ·

En nou moet die staat maw die belasting betaler weer vir die moordenaars sorg . Dis net te gerieflik en gemaklik om in n tronk op gesluit te word in SA . Jyt meer regte as die beskaafde publiek . Dis tyd dat dit strafkampe word en nie net n leeglê vakansie nie

Schalk ·

Daai tipe “mens” kan nie redeneer of verstaan wat reg of verkeerd is nie! Nou kry hulle eintlik lewenslank gratis verblyf met stemreg en ander voorregte wat arm opregte mense eerder verdien. Die regstelsel maak nie sin nie want een of ander tyd kry hulle weer ‘n vorm van straf versagting. Die gesin wat verwoes is kry wat uit die uitkoms van die regsaak?

Nico ·

Hulle gaan nou lekker bly in die staat se vyfster hotel en na ‘n paar jaar word hulle vrygelaat en dan doen hulle dit weer, lewenslank is nie ‘n afskrik middel nie. Die doodstraf sal dalk werk.

Swerkater ·

Ten minste een plaasmoord wat binne ‘n jaar afgehandel word…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.