Twee Limpopo-seekoeie raaiselagtig doodgeskiet

Argieffoto

Argieffoto

WAARSKUWING: Die foto’s onderaan die berig is grafies van aard en kan sensitiewe lesers en kinders ontstel.

Twee seekoeie is in ʼn week in die Phalaborwa-omgewing in Limpopo doodgeskiet.

In die jongste voorval is die karkas van ʼn seekoei, waarvan die geslag onbekend is, Vrydagoggend naby die Olifantsrivierbrug naby Mica, sowat 35 km van Phalaborwa, in die pad gekry met ʼn koeëlwond aan die dier se kop.

“Ons is aanvanklik na die toneel ontbied onder die indruk dat daar ʼn ongeluk was,” het Jaco Gericke, ʼn paramedikus van Maponya 911, aan Maroela Media gesê. “Toe ons op die toneel kom, was die seekoei reeds dood. Daar was ʼn duidelike wond aan die dier se kop. Ons weet egter glad nie wie die dier geskiet het nie.”

Gericke het gesê ʼn trekker het later by die toneel opgedaag om die seekoei se karkas te verwyder deur dit in die bosse na die rivier toe te sleep.

Die voorval volg op ʼn soortgelyke een waar ʼn geliefde seekoeibul verlede Donderdagaand in Phalaborwa naby ʼn vulstasie van kant gemaak is.

Gericke, wat die bul as ʼn “gentle giant” beskryf, het gesê die seekoei kom besoek die dorp sporadies en het nog niemand leed aangedoen nie.

Kerry Gerber, senior inspekteur van die plaaslike dierebeskermingsvereniging (DBV), het Gericke se mening beaam.

“In die ses jaar dat ek vir die DBV hier werk, het die dier nog niemand bedreig nie en word ook nie as ʼn probleemdier beskou nie,” het Gerber aan Maroela Media gesê.

Gerber verduidelik twee plaaslike inwoners het Donderdagaand in die gebied rondgery om Pokemons in die PokemonGo-slimfoonspeletjie te vang. “Hulle het ʼn skoot gehoor en gaan ondersoek instel. Hulle het later op ʼn plek afgekom waar die dier vier keer geskiet en met ʼn voertuig weggesleep is. Hulle het die bloedspoor gevolg en op die karkas met skietwonde afgekom. Dit was naby die DBV se perseel. Die volgende oggend was die karkas skoonveld en ons weet nie waar dit is of wie dit geskiet het nie.” Sy het gesê die mense het foto’s van die karkas geneem en aan die DBV verskaf. ʼn Video het ook intussen op sosiale media uitgelek wat iemand geneem het waar die vierde skoot gevuur word. Dit is nie duidelik wie dié video geneem het nie.

Gerber het gesê die DBV ondersoek die voorval, maar is afhanklik van ooggetuies of mense met meer inligting daaroor om die DBV by 015 781 2415 of 082 494 2147 te bel.

Kol. Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê dit hang af in watter omstandighede die diere geskiet is alvorens dit as ʼn misdryf beskou word. “Dit word nie sommer as stropery beskou as dit ʼn rondloperdier is wat ʼn gevaar inhou nie, maar as dit iemand se eiendom is of die omstandighede verdag is, moet dit by die polisie aangemeld word sodat die saak ondersoek kan word,” het Otto gesê.

Maroela Media het navraag by die provinsie se departement van natuurbewaring gedoen en wag vir terugvoering.

WAARSKUWING: Die volgende foto’s is grafies van aard en kan sensitiewe lesers en kinders ontstel. 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Ekwilibrium ·

Grootwild breek gereeld uit Groter Kruger uit in daardie gebied. Juis naby daardie vulstasie is ‘n olifant laasmaand doodgery deur ‘n jagende motoris in sy nuwe BMW. Weerwraak?

M'Lady ·

Geen mens of dier is veilig in hierdie vervloekte land nie.

marianne ·

DIT IS AAKLIG! ‘n arme onskuldige dier. See koeie is van nature skugter diere hulle val aan wanneer hulle bedreig voel of kalfies het. DIS WREED EN ONMENSLIK! WAT GAAN AAN??? Plaas aanvalle en moorde, verkragtings, huis rowe, kinder molesteerings, diere moord en ja die skiet van ‘n onskuldige dier is MOORD!!!
BRING DIE DOODSTRAF TERUG
ENIGE LEWE WAT GENEEM WORD MOET VERGELD WORD!

Kellies ·

Hallo Marianne. Het jy geweet dat seekoeie die dier is wat die meeste mense doodmaak? Het jy ook geweet dat as jy teen n blok van n seekoei vasry jou kanse op oorlewing skraal is. Ek wonder of jy dieselfe siening gaan he as een van jou familie deur n seekoei doodgemaak word? Vra maar net.

MJ ·

Kellies. Not sure if you are from phalaborwa or the surounding area but I am, so let me inform you of the a few things. The first hippo was a well known hippo here in town for more yrs then I can remember. He has nevereceived been a problem and has wandered the str without incident. The second hippo – this is rightfully his territory. There are clear signs stating there is wild. What you in fact are saying is that all cows in the road can also be shot and killed ?????

Olivia ·

Ek het 8 jaar in Phalaborwa gebly en niemand is ooit aangeval deur ‘n seeikoei in die dorp nie. As jy deur die rivier gaan swem met lewensgrootte borde op is dit jou probleem. Daar is gereeld “trigger happy” mense wat die wild naby Foskor myn gaan skiet het, ook die vlakvark familie wat in die dorp rondgeloop het. Dit is uiterse twak Kellies wat jy praat. Ek het jare daar gebly sonder enige voorval en die wild is deur van die gemeenskap gewees. As jy in Phalaborwa bly is dit amper ter verwagte om wild te sien. Jy mag jou feite reg he oor seekoeie maar dit is waar dit ophou.

MFP ·

Kellies, jy praat snert. Daardie seekoei het baie nagte reglangs my muur sy lêplek kom maak. En het baie keer vir hom gestaan en kyk oor die muur. Eintlik was die seekoei ‘n gevaar vir die laat aand rondlopers wat kyk waar hul kan inbreek en roof en vir die mense wat dink hul is op Kayalami. Om 02:00 in die nag rond te ry soos ‘n besetende en nog gesuip daarby gaan jy die seekoeie nie betyds kan sien nie. Ek bly al bykans 53 jaar in Phalaborwa en daar was altyd seekoeie en ander diere(luiperds ens) in ons dorp vir jare, hoekom is hul nou ‘n probleem? Dit is oor die ongewensde elemente wat rondsluip in die nagtelike ure. Male sonder tal kon ons die leeus hoor brul het, maar deesdae is dit net die renjaers wat ek hoor.

Wern ·

Is die tande verwyder? Dit is ivoor, en as landsgenote n mens kan doodmaak vir R50 dan sal hulle seker n seekoei ook kan doodmaak vir watookal daardie ivoor werd is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.