Twee luiperds ná jare se haglike toestande in SA hervestig

(Foto: Facebook/Born Free)

Die Born Free-stigting, ʼn toonaangewende natuurlewe-liefdadigheidsorganisasie wat onvermoeid werk om die uitbuiting en lyding van wilde diere, hetsy in gevangenskap of in die natuur, hok te slaan, het Vrydag op nasionale luiperddag aangekondig dat twee luiperdwyfies ná jare suksesvol in die Shamwari-natuurreservaat in die Oos-Kaap hervestig is.

Die luiperdwyfies, Ginny en haar ma, Alda, wat onderskeidelik ongeveer agt en 14 jaar oud is, is deur ʼn uiters onsekere toekoms as slagoffers van onwettige handel van wilde diere in die gesig gestaar. Hulle is vir jare saam met talle ander diere in haglike toestande by ʼn onwettige teelfasiliteit in Śrem naby Poznań in Pole aangehou.

Toe die owerhede op die private plaas toegeslaan het, was hulle stomgeslaan oor die haglike en onvoldoende spasie waarin die diere moes leef. Alda en Ginny was in ʼn piepklein en donker sel met min buiteruimte ingeprop. Sommige van die diere het glo in hul eie ontlasting geleef en ander het geen toegang tot die buitelug gehad nie. Die fasiliteit in Śrem is daarna deur die Poolse owerhede gesluit en die luiperds, saam met al die ander diere, is gered.

Dr. Mark Jones, Born Free se beleidshoof, sê hoewel die luiperdwyfies se potensiële lot nooit ten volle bekend sal wees nie, is dit moontlik dat hulle verkoop sou word en in ʼn lewe van uitbuiting in ʼn sirkus of in ʼn ongeakkrediteerde dieretuin sou eindig.

“Hulle kon dalk selfs opgekap word vir hul liggaamsdele vir die afskuwelike internasionale handel van groot katte vir hul velle en bene, wat deur sommige as ‘tradisionele medisyne’ gebruik word.”

Hy sê ’n span kundiges van Natuurhulpcentrum (NHC), die Belgiese wildreddingsentrum, het egter kort nadat die omstandighede by die private plaas aan die lig gekom het, na Pole gereis om Alda en Ginny te gaan haal.

We have news to share this International Leopard Day – this week we welcomed two leopards to our sanctuary at Shamwari Private Game Reserve. Mother and daughter Alda and Ginny were rescued from horrific conditions at an illegal breeding facility in Poland, in 2017 and lived with our friends at Natuurhulpcentrum Opglabbeek until they were able to be moved to their forever home. We are so thankful to Olsen Animal Trust who are paying for the lifetime care of these two leopards, and to Cargolux Airlines International S.A. and BidAir Cargo PetLounge who transported them to South Africa. Sadly, leopards and other big cats are bred in captivity for horrific reasons – to languish in small cages as illegal ‘pets’, for exploitation in zoos, circuses or for animal ‘experiences’, and for trade in their skins, teeth, claws, bones and other body parts. Whatever the reason that Alda and Ginny were bred, their life would have been bleak. Thankfully, they now get to experience a life under the South African sun. We work tirelessly to end the illegal wildlife trade. Can you help us to protect more wild animals like Alda and Ginny? Please consider donating to support our vital work in this area ????https://www.bornfree.org.uk/donate/?utm_source=facebook

Posted by Born Free Foundation on Thursday, May 2, 2024

“Sedert 2017 het die toegewyde span die ma en dogter die spesialisversorging gegee wat hulle nodig gehad het om van hul tragiese beproewing te begin herstel.

“NHC was egter net ʼn tydelike tuiste vir die twee luiperds. Ten tyde van die redding het die Poolse owerhede toestemming gegee dat die luiperds na België geneem mag word. Dit het egter jare en baie harde werk gekos om die korrekte dokumentasie en sertifikate gereed te kry voordat planne vir ʼn permanente tuiste vir die luiperds gemaak kon word.

Born Free kon die permanente tuiste aan die diere bied en werk sedertdien saam met NHC om die twee se hervestiging in Suid-Afrika te verseker.

Jones sê ná jare se regskwessies en komplekse papierwerk en ʼn reis van meer as 13 000 km – asook die toewyding van organisasies regoor die wêreld – kan die luiperdwyfies nou die veiligheid en natuurlike habitat van hul nuwe tuiste geniet.

(Foto: Facebook/Born Free)

“Dié hervestiging het hierdie week uiteindelik ʼn werklikheid geword. Alda en Ginny het meer as 13 000 km per pad en lug op internasionale en binnelandse vlugte gereis om hul bestemming, Born Free se Big Cat Sanctuary by Shamwari in die Oos-Kaap, te bereik.

Ná hul lang reis is die luiperds Woensdag in sonskyn en met voëlgesang in die natuur vrygelaat.

Alda en Ginny het versigtig die eerste treë uit hul kratte gegee, die Suid-Afrikaanse grond onder hul pote geruik en hul nuwe omgewing noukeurig begin ondersoek.

Die diereversorgingspan by Shamwari was verheug om te sien hoe albei luiperds vinnig hul nuwe tuiste in ʼn 2,5 ha omheinde gebied met entoesiasme verken het.

Catherine Gillson, bestuurder van Born Free by die Shamwari- private wildreservaat, sê dit is ʼn voorreg om die dramatiese verandering wat Alda en Ginny nou in hul lewens ervaar eerstehands te beleef.

“Die haglike toestande van hul geboorteplek by die onwettige teelsentrum in Pole is in skrille kontras met die natuurlike digte plantegroei in hul kampe op die Shamwari- private wildreservaat.

“Hoewel hulle ongelukkig nooit ten volle in die natuur vrygelaat sal word nie, hoop ons dat hulle vinnig by hul nuwe omgewing sal aanpas waar hulle natuurlike verryking en die regte dieet sal ontvang.

“Die Born Free-span sal die luiperds noukeurig dophou en vir die res van hul lewens die toegewyde, kundige sorg gee wat hulle verdien.”

(Foto: Facebook/Born Free)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sandra ·

Dankie Vader vir mense soos die wat die twee katte uit hulle haglike omstandighede gered het sodat hulle kussingtjies onder hulle voetjies kan voel hoe dit voel om op sagte gras en sand te kan loop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.