Twee maande oue baba ontvoer

Die dogtertjie wat glo ontvoer is. Foto: Verskaf

Die polisie het ʼn volskaalse soektog van stapel gestuur na ʼn twee maande oue babadogtertjie wat vermoedelik ontvoer is.

Kol. Thembeka Mbele, provinsiale polisiewoordvoerder van KwaZulu-Natal, het Woensdag gesê die baba se 28-jarige ma het Dinsdag omstreeks 14:30 met haar baba by ʼn taxistaanplek in Umzinto gestaan toe sy deur ʼn onbekende vrou in ʼn pienk nagrok genader is.

“Die vrou in die pienk rok het die ma eenkant toe geroep en vir haar gesê dat sy ʼn mishandelingslagoffer is en geen heenkome het nie. Die ma het besluit om die vreemdeling te help en het haar na haar huis in ʼn informele nedersetting geneem,” het Mbele gesê.

“Teen 20:00 het die verdagte gekla van ʼn hoofpyn en het haar gasvrou versoek om pynstillers by haar bure te gaan kry. Die ma het haar baba agtergelaat en is gou na die bure toe. Sy het kort daarna teruggekeer en besef die vrou oor wie sy haar ontferm het, en haar dogtertjie, is skoonveld.”

Mbele het gesê die baba se kliniekkaart, formulemelk en bababottels word ook vermis.

“ʼn Onmiddellike soektog na die vrou en die baba was vrugteloos en die saak is by die polisie aangemeld. Die ondersoekbeampte het rede om te glo dat die vrou ʼn rygeleentheid van die R612 naby Courthouseweg tot by die N2-snelweg gekry het vanwaar sy ʼn rygeleentheid Durban toe gesoek het.

Die polisie ondersoek ʼn saak van ontvoering. “Die ma is rasend van bekommernis oor die veiligheid en welstand van haar baba en pleit dat haar kind veilig terugbesorg word,” het Mbele bygevoeg.

Die verdagte is in haar vroeë 20’s. Enigiemand met meer inligting oor die voorval word versoek om die polisie by 08600 10111 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sanna ·

Sterkte, ek hoop van harte jou dogtertjie word vlugtig terugbesorg by jou.

$ ·

Hoe wreed en harteloos kan ‘n mens nie wees nie. En dan nog iemand so uitbuit wat haar oor jou ontferm het (sonder dat sy weet sy word bedrieg) en juis gewys het hoe ‘n goeie hart sy het – selfs ook deur vir jou pille te gaan soek by die bure.

Die ontvoerder het geen maar geen gewete nie – dit gaan gewone mense soos ons se verstand te bowe dat iemand so ‘n slinkse plan sal bedink en mense se lewens so gevoelloos vernietig.

Mag die Here die ondersoekspan lei met bonatuurlike wysheid om leidrade raak te sien en spoedig op te volg. Mag Hy mense met wie die ontvoerder in aanraking se oë oopmaak dat hulle onraad sal vermoed en die vrou se bewegings sal gaan aanmeld. Mag Hy bo alles Sy hand van beskerming oor die kleinding hou totdat sy gevind word, en mag Hy die moeder versterk en vertroos.

Ons bid vir God se ingeyping.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.