Die Johannesburgse dieretuin het nog twee olifante bygekry as metgeselle vir hul bekende grootvoet, Lammie, maar die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) is “absoluut platgeslaan” oor die nuus.
Die dieretuin was Donderdag “in ekstase” met die toevoeging van ʼn 22-jarige olifantbul, Ramadiba, en ʼn 19-jarige olifantkoei, Mopani, as nuwe maats vir sy bekende olifantkoei, Lammie (39). Die nuwe olifante sal op 12 Augustus, Wêreldolifantdag, aan die publiek bekend gestel word. Dit is ook die dag dat Lammie haar 40ste verjaardag vier.
Die NDBV is egter glad nie gelukkig met die twee olifante se koms nie. Die organisasie is ongelukkig dat nog twee olifante nou in aanhouding is aangesien dit volgens hom sleg is vir enige olifant se welstand. Volgens die NDBV raadpleeg hy tans sy regspan oor die moontlike lot van die twee olifante.
Die koms van die nuwe olifante is voorafgegaan deur maande lange ongelukkigheid oor die welstand van Lammie wat in ʼn roufase was ná die dood van haar maat. Dit is gevolg deur betogings voor die dieretuin en eise dat Lammie in die natuur hervestig word. Die dieretuin het egter volgehou dat dit in Lammie se beste belang is om by hulle te bly.
Jenny Moodley, woordvoerder van die Stad Johannesburg se parkeafdeling en die dieretuin, het gesê daar is ʼn uitgerekte proses gevolg om wettige permitte vir Ramadiba en Mopani te kry.
Volgens die dieretuin sal die kwessie van ruimte om rond te beweeg altyd omstrede wees, maar dit is nie die enigste kritieke faktor nie. Die onverbiddelike bedreiging deur stropers, ʼn verlies aan weiding weens toenemende verstedeliking, ongunstige weerstoestande en die onvermoë van olifante wat in aanhouding gebore is om in die natuur vrygelaat te word en aan te pas, is volgens die dieretuin tans ʼn werklikheid.
Die NDBV is egter boos dat hy “in die donker gehou” is rakende die koms van die olifante nadat daar vooraf navrae by die toepaslike agentskappe hieroor gedoen is. Volgens die NDBV het hy op 12 Junie verneem die dieretuin het om permitte vir die olifante aansoek gedoen en is die volgende oggend ingelig die olifante is reeds by die dieretuin. Die NDBV het die dieretuin daarvan beskuldig dat hy die olifante van ʼn goeie lewe ontneem.
Lammie is in die Johannesburgse dieretuin gebore en haar ma en pa, Dolly en Jumbo, is in die 1970’s in dieselfde dieretuin aangehou. Hulle is later ʼn jaar ná mekaar dood. Lammie se broer, wat ook in die dieretuin gebore is, is kort nadat hy aan ʼn Franse dieretuin verkoop is, dood.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
18 Kommentare
Ag ek is so bly Lammie het maaitjies gekry!
Ek is baie bly vir Lammie. Sy het ‘n maatjie nodig.
Die “platgeslane” histeriese reaksie vd DBV toon hoekom hulle juis nie in die eerste plek om kommentaar gevra is nie.
Hulle het geen sê in die saak nie; hulle is nie die owerheid nie.
Kategoriese teenstand teen wettige aanhouding maak juis dat ons vlg keer wanneer hulle wel ‘n punt het, nie luister nie. Amper soos die seuntjie wat wolf-wolf geskree het.
Die ndbv moet eerder hulle aandag vestig op die ministers se vee.
Dis baie hartseer nuus!!!! Nog 2 onskuldige diere wat nou in aanhouding moet lewe, hulle moet in die natuur wees, waar hulle vir kilometres en kilometres kan loop.. blare van bome kan afeet, in damme en water poele kan speel en baljaar! Watse lewe is dit vir ‘n olifant om in soooo verpiepte klein plek opgesluit te wees!!! Dis baie unfair!!!!