‘Twee magsentrums veroorsaak twyfel’

Cyril Ramaphosa

Die nuwe president van die ANC, Cyril Ramaphosa. (Foto: GCIS)

Suid-Afrika staar nóg onsekerheid in die gesig oor politieke en ekonomiese beleidsrigtings.

Die ekonomiese navorsingsgroep NKC Research sê in sy daaglikse kommentaar dat daar verskeie knelpunte is.

Dié groep sê van die grootste struikelblokke is die ondersoek na staatskaping, die rol van die nuwe ANC-president Cyril Ramaphosa en die toekoms van die land se president, Jacob Zuma. Die navorsingsgroep sê dit maak besluitneming moeilik, veral omdat daar nou twee magsentrums is, naamlik Luthuli-Huis en die Uniegebou.

Boonop is daar kommer dat die staatskapingsondersoek topamptenare soos Ace Magashule, die ANC se nuwe sekretaris-generaal en Vrystaatse premier, in sy spore kan stuit.

Aan die positiewe kant sê die navorsingsgroep dat Ramaphosa daarin geslaag het om Zuma se kernkrag-planne finaal die nekslag toe te dien. Ramaphosa het verlede week op die Wêreld Ekonomiese Forum in Davos aangekondig dat die land nie kernkrag nodig het nie omdat Eskom tans genoeg elektrisiteit wek. Dit ondanks die feit dat Zuma en van sy ministers nog positief was oor die moontlikheid van kernkrag. Ramaphosa het ook aangedui dat die land dit nie kan bekostig nie.

Pres. Jacob Zuma spreek die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) toe (9 November 2017). Foto: Elmond Jiyane, GCIS

NKC Research sê verder dat David Mabuza, adjunkpresident van die ANC, oor die naweek duidelik vir Ramaphosa gesteun het deur na Zuma te kap oor sy aankondiging oor gratis hoër onderrig in Desember. Mabuza het bygevoeg die mag lê by die ANC en nie by kaders wat deur die ANC ontplooi is nie.

Die navorsingsgroep sê dit was juis ʼn knelpunt by Davos omdat beleggers verwag dat die ANC nou sy stempel op die staat sal afdruk. Dit beteken dat Zuma en verskeie van die ministers wat hy aangestel het, nie vertrou word nie, veral ten opsigte van staatskaping en korrupsie.

NKC Research sê die twee sentrums van mag veroorsaak ook twyfel onder plaaslike en buitelandse beleggers. Die groep sê dit is duidelik dat die huidige ANC-leierskap staatsbeheerde ondernemings wil regruk en dat dit moontlik privatisering kan insluit.

Die groep sê om van Zuma ontslae te raak gaan nie van die probleem ontslae raak nie, juis omdat die wortels so diep versprei is. Hulle wys daarop dat Jessie Duarte, die ANC se adjunk-sekretarisgeneraal, se uitsprake die afgelope naweek dat Zuma nêrens gaan nie, juis die diep verdeeldheid onderstreep.

Volgens die navorsingsgroep sal die ANC baie vinnig aksie moet neem om aan beleggers sekerheid te gee.

 

 

 

.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Alida ·

Watter deel verstaan hulle nie? Raak ontslae van krimineel met 780+ aanklagtes en AL sy meelopers.

Nel ·

Dit gaan absoluut niks oplos nie!! Afrika -politiek het nie maklike antwoorde nie.

PJC ·

Ongelukkig sit daar nog groot ondersteuners van JZ in die topstruktuur van die ANC. Dit is ook baie duidelik op hierdie stadium dat hulle hom steun omdat hulle baie groot geraamtes in die kas het.

Cherokee ·

Ramaphosa is bang vir Zuma & kie, en miskien meer vir kie! Cherokee het lankal gesê dat niks gaan verander nie want Ramaphosa het nooit geveg teen die ondergang van die land nie, al was hy in die tweede hoogste posisie gewees.

Callie ·

Weermag hoof steeds n Zuma vrtroueling. SAP hoofde ook. Hou Zuma mooi dop

Chris Ws ·

Ek wens die’ twee wil aanmekaarspring!Dan skeur hulle die anc wyd oop tot ons blankes wat nee gestem het en die land op die ou end se voordeel.Ek het vrede met die res.Hulle kan maar ‘n kant vir hulle kies!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.