Twee mans probeer vergeefs drenkeling red

Gaffoor in die water. Foto: NSRI

Gaffoor in die water. Foto: NSRI

ʼn Man het Sondagoggend by Drieankerbaai in Kaapstad verdrink.

Paula Leech, die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se dienskontroleerder in Tafelbaai, het gesê hulle is omstreeks 05:45 na die Drieankerbaai-promenade ontbied ná berigte van ʼn man wat op die rotse in die water aan die voorkant van die promenade is.

“Met ons aankoms het twee omstanders, Peter Ascham en Ali Gaffoor, ʼn harnas aan die reling van die promenade vasgemaak. Gaffoor was ook vasgemaak aan die harnas in die water in ʼn poging om die man te probeer red.”

Volgens Leech het Ascham met sy hond gestap toe hy die man in die water om hulp sien roep het. Ascham het nie ʼn selfoon by hom gehad nie en het Gaffoor wat per fiets gery het, voorgekeer. Hulle het hierna die harnas prakseer en die man uit die water probeer help.

“Die man is intussen egter van die rotse gespoel en deur sleurstrome al dieper in die water ingetrek.” Graham Watson, ʼn NSRI-reddingswemmer, het die see ingeswem en sowat 100 m verder die man gekry. Hy het hom na die promenade uitgeswem waar Gaffoor en nog ʼn NSRI-reddingswemmer gehelp het om die man met die harnas uit die water te kry.

Mediese personeel het onmiddellik behandeling begin toepas, maar die man is ondanks verskeie pogings om hom by te bring op die toneel dood verklaar. Die NSRI het Ascham en Gaffoor geloof vir hul poging om die man te probeer red.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Tania ·

Ons het soveel mense met harte vir ander. Julle daad is absoluut whoa. N voorbeeld vir my en baie ander. Sterkte aan die oorledene se familie

Justice ·

Peter en Ali ek stem saam met Tania – julle het julle lewens op die spel geplaas vir `n vreemdeling – dit is ware dapperheid in die sin van die woord.

Jean ·

Sjoe dankie vir die pragtige onselfsugtige daad. Jammer die strome was te sterk, maar weet net julle het ‘n onbaatsugtige diens verrig, en alles probeer om die drenkeling te red. Dit se so baie van julle harte. Dankie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.