Twee met honderde Sassa-kaarte betrap

(Argieffoto)

Twee persone is Sondagaand digby Ashburton, KwaZulu-Natal, in hegtenis geneem vir die besit van honderde kaarte van die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa), asook talle bankkaarte.

Kol. Thembeka Mbele, polisiewoordvoerder, sê polisielede van die Alexandraweg-polisiestasie in Durban asook die Pietermaritzburgse polisie se honde-eenheid het die twee verdagtes in ʼn bakkie gewaar en agternagesit. Hulle het die twee op die N3-snelweg, digby Ashburton, voorgekeer.

Die bakkie is deursoek en daar is op altesaam 495 Sassa-kaarte en 84 bankkaarte beslag gelê.

“Die verdagtes kon nie verduidelik waarom hulle in besit van die kaarte is nie en hulle is summier in hegtenis geneem,” het Mbele gesê.

Die polisie het ook op ammunisie beslag gelê wat glo in die bestuurder van die bakkie se besit gevind is. Die bakkie is ook gekonfiskeer vir verdere ondersoek.

Albei mans, onderskeidelik 44 en 51 jaar oud, staan tereg op aanklagte van bedrog en die besit van vermoedelik gesteelde goedere.

Hulle sal na verwagting Maandag in die Pietermaritzburg-landdros verskyn.

Genl.maj. Thulani Gonya, die waarnemende provinsiale polisiekommissaris in KwaZulu-Natal, het die polisiebeamptes geloof vir hul waaksaamheid wat daartoe gelei het dat miljoene rande wat vir armes bestem is, moontlik behoue gebly het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Sarel

Waar en hoe kry hulle dit, dif is die vraag