Die polisie in Garies in die Noord-Kaap het twee mans in hegtenis geneem op aanklag van die onwettige besit van vetplante ter waarde van ongeveer R200 000.
“Sers. Johan de Waal was op Dinsdag omstreeks 04:00 besig met roetine-inspeksies op ʼn plaas naby Garies,” sê lt.kol. Sergio Kock, woordvoerder van die polisie. “Hy het ʼn verdagte motor op die N7 opgemerk wat stilgehou en ʼn U-draai gemaak het.”
De Waal het ondersoek gaan instel waar die motor stilgehou het en op twee mans afgekom met vermeende gestroopte Conophytums (ook bekend as knopies of waterblasies) in hul besit.
“Die verdagtes, onderskeidelik 22 en 28 jaar oud, sal binnekort in die Springbok-landdroshof verskyn. Die ondersoek duur voort.”
Die waarnemende distriksbevelvoerder vir Namakwa, kol. Schalk Andrews, het sers. De Waal geloof vir sy vinnige optrede.
“Die polisie sal sy pogings verskerp om onwettige stropery van vetplante in die Namakwa-distrik te bekamp.”
‘n Knopie of waterblasie is dwergvetplantjies en deel van die vygiefamilie. Die SANBI-rooilys vermeld 103 spesies en talle subspesies waarvan party net van een plek bekend is. Dit lê soos balletjies of suiltjies tussen die klippe.
- (Foto: SAPD)
- (Foto: SAPD)
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
5 Kommentare
En laat ek raai…… dit is buitelanders wat ons pragtige plantlewe so uitwis om die plantjies oorsee te stuur.
MM. Kyk asb na julle opskrif. Die vetplante is nie onwettig nie. Hulle is onwettig in besit van vetplante.
Daar is absoluut NIKS wat hierdie spul VERWOESTERS sal uitlos nie! Dis rerig skokkend hoe als in die land vernietig word en dit vir GELD!
Dit hartseer dat mense ons mooi natuur vernietig vir eie gewin.