Twee met talle selfoontoringbatterye betrap

Die selfoontoringbatterye waarop beslag gelê is. Foto: SAPD

Twee mans sal na verwagting Maandag in die hof verskyn nadat hulle met vermoedelik gesteelde selfoontoringbatterye in hul besit betrap is.

Kapt. Dineo Koena, polisiewoordvoerder, het gesê die twee mans is Vrydagaand op ʼn passasiersbus op die N2 naby Tshisane in die Oos-Kaap met 16 selfoontoringbatterye betrap.

“Die polisie het inligting ontvang dat die batterye van Mthatha na Johannesburg vervoer gaan word waarna die bus by ʼn padblokkade van die pad af getrek is. Die bus is deursoek en daar is op die batterye ter waarde van R400 000 beslag gelê.”

Volgens Koena het die verdagtes polisiebeamptes met “duisende rande” probeer omkoop toe hulle in hegtenis geneem is. “Daar sal nou gekyk word of die verdagtes moontlik met ander sake verbind kan word.”

Die verdagtes, 34 en 36 jaar oud, sal Maandag in die Tsolo-landdroshof verskyn op aanklag van die besit van vermoedelik gesteelde eiendom en omkopery.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Leon ·

En die busbestuurder vermoed niks nie. Of, is die busbestuurder deel van die sindikaat.

Sê net ·

Busbestuurder het niks vermoed nie. Was egter bly dat die bus beter sit in draaie, was bietjie teleurgesteld dat die bus se krag bietjie minder was. Die feit dat hy so bietjie laer op die asse gelê het, het hy nooit agtergekom nie. Nee, hy het niks vermoed nie, heeltemal onskuldig.

Chris Ws ·

Kom ons kyk of die “regter” voor wie hulle gaan verskyn vir hulle sumier borg gaan toestaan en of hy bietjie meer as baie min verstand het en hulle borg weier.Borg word eenvoudig myle te maklik toegestaan in howe.

daniel ·

N skande dat soveel mense so min lojaliteit teenoor hul land kan openbaar. Met sulke mense sal n land sekerlik ondergaan.

Sputnik ·

Ai mense, julle verdink en wys so maklik vingers na die bestuurder. Vir ‘n oomblik daaraan gedink dat hy dalk alarm gemaak het? Hy sal die kriminele dit geensins kan laat agterkom as hy wil bly lewe nie. Dink weer.

Scalla ·

Dit is nie die eerste keer dat hul dit doen nie, mag geregtigheid geskied en n voorbeeld van hul gemaak word.

Probeer ek ook se ·

Hoerraaa nou het hulle 2 van die 10miljoen misdadigers vasgetrek in die land.

Karlahari ·

Wat van klag van sabotasie saam met diefstal?
Diefstal van infra struktuur moet as terrorisme geklassifiseer word.
Sodoende kan vonisse meer van pas wees in lyn met diefstal wat die gemeenskap benadeel.

Pieter, Weskaap. ·

Die motief “heilig” die metode: Hulle wou die dieselbus omskakel na elektries-aangedrewe om lugbesoedeling te verminder maar het net nie geweet hoe om die batterye te koppel nie….

Julius ·

Kla maar die busbestuurder ook aan. Die begasieruimte is vir begasie en nie vir vragte nie. En ook nie vir onwettigge immegrante nie.

Peet ·

Stem Karlahari. Speletjie geword. Sabotasie wat land verlam.

SjN ·

Die tipe oortredings van lewensbelangrike toerustings wat kabels ens insluit moet onder terrorisme/sabotasie val, strenger beheer van skroothandelaars wat as afset dien moet ook toegepas word, gewone roof en plundering se straf dien nie as afskrikmiddel nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.