Twee met vrag perlemoen naby Caledon vasgetrek

Foto: SAPD

Foto: SAPD

Twee mans is Sondag in die Wes-Kaap in hegtenis geneem vir die besit van perlemoen ter waarde van meer as R200 000.

Kapt. Frederick van Wyk, woordvoerder van die polisie, het gesê die mans is naby Riviersonderend vasgetrek. Lede van die plaaslike polisie het ʼn wenk ontvang dat ʼn verdagte wit Toyota Corolla Verso met perlemoen op die N2 in die rigting van Caledon ry. Die polisie het na voertuig gesoek en dit op die R326 opgespoor.

“Polisiebeamptes het agter die verdagtes se voertuig gery toe die bestuurder skielik gestop en die polisievoertuig teen die Toyota gebots het,” het Van Wyk gesê. Die bestuurder en die passasier het uit die Toyota gespring en op die vlug geslaan, maar die passasier is kort daarna vasgetrek. Die bestuurder is later in hegtenis geneem toe hy langs die N2 gestaan het, het Van Wyk gesê.

“Beamptes het die voertuig deursoek en 2915 eenhede perlemoen gevind ter waarder van R221 540.” Daar is op die perlemoen en die voertuig beslag gelê en dit is as bewyse ingedien.

Die verdagtes, onderskeidelik 32 en 36 jaar oud, is albei van Gansbaai. Hulle sal binnekort in die Caledon-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.