Twee met vuurwapens in Hermanus vasgetrek

Hermanus. Argieffoto

Twee verdagtes is by ʼn huis in Hermanus in die Wes-Kaap in hegtenis geneem nadat onwettige vuurwapens glo in hul besit gevind is.

Kapt. FC van Wyk, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die inhegtenisnemings volg ná ʼn gesamentlike intelligensiegedrewe poging wat Vrydagoggend in Gousblomstraat in Mount Pleasant uitgevoer is.

“Beamptes het inligting opgevolg en ʼn klopjag by die perseel uitgevoer. Tydens die soektog is ʼn 34-jarige man in besit van ʼn .357 Magnum-rewolwer betrap terwyl hy in ʼn motor buite die perseel gesit het,” het Van Wyk gesê. Die man is in hegtenis geneem op aanklag van die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen.

“Beamptes het ook op ʼn haelgeweer in die plafon van een van die kamers afgekom. Daar is later vasgestel dat die haelgeweer vroeër in Caledon as gesteel aangemeld is. Die polisie het ook ʼn klein hoeveelheid dagga en tik gevind en daarop beslag gelê.”

Volgens Van Wyk is ʼn 39-jarige verdagte in die huis in hegtenis geneem op aanklag van die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en die besit van dwelms.

“ʼn Verdere aanklag van handel van alkohol sonder ʼn lisensie sal ook bygevoeg word, aangesien daar ook op ʼn groot hoeveelheid drank beslag gelê is.”

Albei verdagtes moet Dinsdag in die Hermanus-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Willem ·

Nee man, die manne wou n groot opskop reël! Drank, dwelms, klink na een groot partytjie wat hulle besig was om te beplan vir oujaar ?

Johann Marx ·

Minium vonnis vir ‘n ongelisensieërde vuurwapen? 25 jaar sonder parool. Want wat wil jy gaan doen met so ‘n vuurwapen? Jy wil iemand anders se lewe gaan neem. Hou op om te fokus op die “wettige vuurwapen eienaars” en begin druk op die regstelsel uitoefen om hierdie vonnis as die minium te implementer. Almal in hierdie land moet weet………as jy betrap word met ‘n ongelisensieërde vuurwapen……word jy toegesluit vir 25 jaar SONDER om in aanmerking te kom vir parool. Finish en klaar….

Cherokee ·

Ek dink (en sou graag korrigeer wil word indien dit nie so is nie) dat vele berigte (nie hièrdie berig nie!) wat vertel van ongelisensieërde vuurwapens verwys na wettige wapens wat nie herlisensieër is volgens die nuwe wet (wat buitendien onder die loep is). Indien ek reg is, was een van my vuurwapens ook vir meer as ‘n jaar nie ‘gelisensieërd’ omdat ek vergeet het om dit te doen en toe ek dit wel doen was daar geen navrae en selfs ‘n amptelike verskoning vanaf die polisiestasie omdat my lisensie twee weke lange as gewoonlik gesloer het weens drukker probleme.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.