Twee met wapens, ammunisie in wildtuin betrap

(Argieffoto: Bill Oxford/Unsplash)

Twee mans is Woensdag in die Krugerwildtuin met ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie betrap. Daar word beweer dat die twee op die uitkyk was vir wild om te stroop.

Kol. Donald Mdhluli, polisiewoordvoerder in Mpumalanga, sê veldwagters het teen 07:20 inligting ontvang oor twee verdagte individue wat by Pretoriuskop rondhang.

“Die veldwagters is per helikopter na die gebied en het by hul aankoms twee mans met ʼn jaggeweer, ʼn magasyn en ammunisie betrap. ʼn Groot jagmes en nog ammunisie is ook in die twee se besit gevind,” sê hy.

“Polisielede van die veediefstaleenheid is oor die voorval in kennis gestel en die mans is in hegtenis geneem.”

Mdhuli sê Esau Dlamini (33) en Samson Maluleke (44) het reeds Donderdag in die Bosbokrand-landdroshof verskyn. Die twee word nou deur aanklagte van die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie in die gesig gestaar.

Volgens Mdhluli het voorlopige ondersoeke aan die lig gebring dat die twee van Mosambiek afkomstig is.

Die saak teen die twee mans is tot 5 Januarie uitgestel vir verdere ondersoek. Hulle sal intussen in polisieaanhouding bly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.