Twee metrobeamptes op een aand vermoor

Argieffoto: SAPD

Twee metropolisiebeamptes van onderskeidelik Johannesburg en Tshwane is Donderdagaand in twee afsonderlike voorvalle in Hillbrow en Mamelodi vermoor.

Die polisie en beamptes van die Johannesburgse metropolisie (JMPD) het tot dusver een verdagte in hegtenis geneem nadat ʼn metropolisiebeampte in dié stad met sy eie dienspistool doodgeskiet is.

Die Stad het in ʼn verklaring gesê die Johannesburgse beampte, wat van diens af was, was te voet tussen Paul Nel- en Claimstraat in Hillbrow op pad toe hy voorgekeer, sy vuurwapen afgeneem en hy geskiet is.

Die SAPD en JMPD het gesamentlik gereageer en danksy die hulp van twee inwoners ʼn verdagte opgespoor nadat hulle sy wegkruipplek in ʼn oënskynlik gekaapte gebou uitgewys het.

Een van die inwoners is tydens die soektog deur gebreekte glas in die gebou beseer. Die JMPD het toegesien dat hy mediese behandeling kry.

In die tweede voorval in Pretoria is ʼn konstabel van die Tshwane Metropolisie (TMPD) by sy huurwoonplek in Mamelodi doodgesteek. Die polisie ondersoek nog die omstandighede van sy moord.

Herman Mashaba, Johannesburg se burgemeester, het sy dank uitgespreek teenoor die inwoners van Hillbrow “wat wou toesien dat die oppergesag van die reg in die stad gehandhaaf word”. Hy het terselfdertyd sy innige meegevoel met die naasbestaandes van die slagoffer betuig.

Ook die TMPD het hul simpatie met die naasbestaandes van hul vermoorde beampte betuig. Hulle gee die versekering dat hulle nou met die SAPD sal saamwerk om sy moordenaar aan die man te bring.

Die Johannesburgse verdagte beweer hy kom van Mpumalanga en dat hy bygestaan is deur iemand van Zimbabwe, volgens die polisie.

“Ons polisiëringsowerheid is kort op die hakke van die ander verdagtes, wat blykbaar die vuurwapen in sy besit het,” het Mashaba gesê.

Hy beskryf die moord op ʼn JMPD-beampte as “nie net ʼn aanval op ons regering nie, maar ook ʼn aanval op die stadsraad se pogings om die oppergesag van die reg in ons stad te herstel”.

Enigiemand met inligting oor enigeen van die misdade kan hul naaste polisiekantoor, Stop Misdaad by 08600 10111 of in die geval van die Pretoriase moord Tshwane se metropolisie by 012 358 7095/6 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Irene ·

Sal graag wil weet os dit SA mense is wat so moor of buitelanders wat hier rondloop

Anoniem ·

Wonder maar net, as Mashaba nou se dit is n aanval op die regering, waar is die gewone ou op straat in die prentjie. Gaan als net oor die regering of is word enige iemand anders in ag geneem. Die nuwe Jhb/Tshwane stadsraad maar net n verlengstuk van vorige een.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.