Twee Mosambiekers oor stropery gevonnis

Argieffoto (Foto: Pete Ball/Pixabay)

Die waarnemende polisiekommissaris in Mpumalanga, genl. Maj. Zeph Mkhwanazi, verwelkom die vonnisse wat twee broers, Arshandi Zitha (34) en Peter Zitha (30) opgelê is in verband met stropery by die Krugerwildtuin. Die twee mans is Donderdag in die Skukuza-streekhof gevonnis.

Brig. Selvy Mohlala, woordvoerder van die polisie, sê die hof het gehoor hoe drie persone op 18 Julie 2022 die wildtuin se Kingfisher-deel betree het. Veldwagters op patrollie het vermoed dat daar betreders kan wees en het ʼn soektog van stapel gestuur na die drie persone. ʼn Helikopter is ook ingespan om die soekspan te help.

Twee van die drie persone is aangekeer terwyl die derde spoorloos verdwyn het.

Die twee broers is met ʼn jaggeweer (sonder ʼn lisensie) betrap en het drie patrone, drie sakke, ʼn mes en ʼn byl in hul besit gehad.

“Die polisie by Skukuza is ook in kennis gestel van die voorval en het die twee persone in hegtenis geneem. Daar is ook bevind dat die twee broers van Mosambiek sonder die nodige dokumentasie in die land is. Hulle het die park ook sonder permitte betree.”

Op aanklag van die betreding in ʼn nasionale park (aanklag 1) is albei twee jaar tronkstraf opgelê; op die aanklag van oortreding van die Immigrasiewet (aanklag 2) is albei een jaar tronkstraf opgelê; op die aanklag van die besit van ʼn vuurwapen sonder ʼn reeksnommer (aanklag 3) is hulle ses jaar tronkstraf opgelê; op die aanklag van die besit van ongelisensieerde ammunisie (aanklag 4) is hulle tot twee jaar tronkstraf gevonnis. Hulle is ook vier jaar tronkstraf opgelê vir sameswering om ʼn misdaad te pleeg (aanklag 5) en een jaar vir die besit van ʼn gevaarlike wapen (aanklag 6).

Die hof het bevind dat aanklag 1 en 2 gelyklopend uitgedien sal word met aanklag 5 (altesaam vier jaar). Aanklag 4 sal gelyklopend met aanklag 3 uitgedien word (ses jaar tronkstraf). Aanklag ses word op sy eie uitgedien (een jaar tronkstraf). Die twee persone sal effektief 12 jaar tronkstraf uitdien.

Hulle is albei onbevoeg verklaar om ʼn vuurwapen te besit.

Mkhwanazi het benadruk dat die vonnis as ʼn afskrikmiddel moet dien vir diegene wat dieselfde misdaad oorweeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SjN ·

Nou moet dit belastingbetalers vir die uitvaagsels sorg, kriminele word beskerm deur die anc,stuur hul terug dat hul daar die straf gaan uitdien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.