Twee munisipaliteite krag kwyt weens wanbetaling

(Argieffoto: pixabay)

Eskom het twee munisipaliteite onderskeidelik in die Vrystaat en Noord-Kaap kennis gegee dat hy hul kragtoevoer gaan afsny indien betalings nie binnekort gemaak word nie. Dit is weens die munisipaliteite se oortreding van die betalingsvoorwaardes vervat in die elektrisiteitsvoorsieningsooreenkomste wat met Eskom gesluit is. Die kragvoorsiener waarsku boonop dat die kragnetwerk landwyd onder enorme druk verkeer weens kragvoorsieners wat onklaar geraak het.

Luidens ʼn Eskom-verklaring is die Masilonyana-munisipaliteit (Brandfort, Winburg en Theunissen) in die Vrystaat en die Magareng-munisipaliteit (Warrenton) in die Noord-Kaap 14 dae kennis gegee om hul skuld te vereffen.

Die kragvoorsiener het boonop die Masilonyana-munisipaliteit ingelig van sy voorneme om die kragtoevoer vanaf 15 Julie af te sny indien die munisipaliteit nie sy skuld van R74 miljoen vereffen nie.

Die Magareng-munisipaliteit het die afgelope twee weke nog geen betalingsooreenkoms met Eskom bereik nie en daarom word sy kragtoevoer vanaf 8 Julie (Woensdag) afgesny.

Volgens Eskom gaan die Masilonyana- en Magareng-munisipaliteit se krag van Maandae tot Sondae 06:00 tot 20:00 afgesny word.

Intussen het die ander vier Noord-Kaapse munisipaliteite wat hul krag kwyt sou wees weens wanbetaling, ʼn ooreenkoms met Eskom bereik. Maroela Media het vroeër berig Tsantsabane-, Magareng-, Kamiesberg-, Richtersveld- en Khai Ma‑ plaaslike munisipaliteite in die Noord-Kaap se krag sou vanaf 8 Julie van Maandae tot Sondae van 06:00 tot 20:00 afgesny word.

Volgens die verklaring het die Kamiesberg-, Richtersveld- en Khai Ma‑ plaaslike munisipaliteite betalingsooreenkomste met Eskom aangegaan om hul uitstaande skuld te vereffen. Tsantsabane- plaaslike munisipaliteit het ʼn tussentydse ooreenkoms met Eskom bereik wat hersien sal word.

Eskom sê hy sal die betalingsooreenkomste noukeurig monitor om te verhoed dat die kragvoorsiener verder in skuld gedompel word.

Eskom sê hy het begrip vir inwoners van die munisipaliteite wat deur die kragonderbrekings geraak gaan word. Die kragvoorsiener sê dat hy om dié rede gereguleerde kragonderbrekings instel in plaas daarvan om die krag net heeltemal af te sny. Dit sal verbruikers die geleentheid gee om alternatiewe reëlings vir die geskeduleerde tydperke te tref.

Intussen sê Eskom die kragnetwerk landwyd is onder druk, nadat ʼn opwekkingseenheid by die Kendal- en Tutuka-kragstasie onderskeidelik die gees gegee het. “Enige bykomende ineenstortings van die infrastruktuur sal veroorsaak dat Eskom nie aan die vraag na elektrisiteit tydens spitstye kan voldoen nie.”

Volgens Eskom kan die kragnetwerk gedurende die naweek nog onder druk verkeer en die kragvoorsiener waarsku verbruikers om spaarsamig met krag om te gaan. Maroela Media het Dinsdag berig ʼn massiewe koue front sal groot dele van die land na verwagting in die volgende paar dae tref.

Eskom raai alle inwoners en plaaslike sakeondernemings wat deur kragonderbrekings geraak word aan om die nodige voorsorgmaatreëls te tref om lewensveiligheid te verseker, asook skade aan toerusting, bedrywighede en sakeondernemings te beperk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Anel ·

Verbruikers betaal, munisipaliteite se wie dit ook al moet oor betaal doen dit nie en dan word die betalende verbruiker gestraf. Hoe werk hierdie land van ins? Laat die diewe die geld betaal! Hierdie land sal nooit uit die moeras kan opstaan nie, nie solank as wat hierdie onbevoegde ANC regering met hulle komunistiese idilogiee aan bewind bly nie.

Kokerboom ·

Eskom tree in sy volle reg op om kragtoevoer af te sny. Die binnepolitiek en wanadministrasie deur Munisipaliteite het regtig niks met Eskom te doen. Die belastingbetalers in die land moet ‘n slag ophou praat en kragdadig optree deur belastingweerhouding asook die betrokke minister asook staat aantree vir wanbestuur. Die verbruiker se tandelose gekerm rol by korrupte kaders soos water van ‘n eend se rug. DOEN IETS ASB!!!!

JohanR ·

Sodra julle vir ons nog lekker groot geld gee dan sal die stelsel skielik nie meer onder druk wees nie!

Eragrostis ·

My vraag is altyd waarom wetsgehoorsame inwoners gestraf word, eerstens weens ander inwoners se wanbetaling, tweedens weens die munisipale bestuur se swak finansiële bestuur en derdens omdat daar niks aan kriminele wat onwettige elektriese konneksies by hul huise maak, gedoen word nie. As die munisipaliteite hierdie drie aspekte aanspreek, is die probleem opgelos.

Ons moet begin saamstaan en die munisipale bestuur dwing om diegene met agterstallige rekeninge se krag te sny, dié met onwettige konneksies agter tralies te kry en die ooraanstellings personeelkorps en buitensporige salarisse van die bestuur te verminder en om meer beheer oor die oorbetaling aan Eskom te hê.. Dan sal daar genoeg krag beskikbaar wees, en genoeg geld vir ander munisipale kostes.

Cherokee ·

Dit blyk dat Eskom stiptelik uitstaande skulde invorder. Dit beteken seker dat Soweto hul skuld betaal het.

Leon ·

Dit is tyd dat die inwoners die munisipale amptenare uit hulle huise uit sleep en 1980’s halsnoere gee soos wat Winnie Mandela se sokkerspan gedoen het. Dan sal hulle begin skrik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.