Twee mynwerkers dood ná grondstorting

Argieffoto

Die Sibanye-Stillwater-mynwerkers wat Woensdag in dié organisasie se Kloof Gold-myn suid van Johannesburg vasgekeer was, is oorlede.

Sibanye-Stillwater het dié nuus Woensdagmiddag bevestig.

Die twee werkers is Woensdag in die vroeë oggendure by dié myn se Ikamva-skag vasgekeer ná ʼn grondstorting wat na bewering deur ʼn seismiese gebeurtenis veroorsaak is. Nooddienste is onmiddellik na die toneel ontbied en verskeie pogings is begin om die twee mynwerkers te probeer red en na die grondoppervlak te bring.

“Dit spyt Sibanye-Stillwater om te bevestig dat die twee mynwerkers [wat ondergronds vasgekeer is] noodlottige beserings opgedoen het ná die grondstorting by die Ikamva-skag in Glenharvie om 01:30 Woensdagoggend,” het die organisasie in ʼn verklaring bevestig.

“Sibanye-Stillwater wil sy diepste meegevoel aan die familie en vriende van die oorledenes betuig. Die werksaamhede by dié spesifieke skag is eers opgeskort hangend ʼn ondersoek wat voltooi sal word.”

Volgens die departement van minerale hulpbronne is die liggaam van een van die oorledenes reeds na die oppervlak gebring.

Die departement het gesê hy en die Sibanye-Stillwater-bestuur sal ʼn ondersoek na die voorval begin sodra die liggaam van die tweede mynwerker opgespoor word.

Die Kloof Gold-myn is sowat 60 km suidwes van Johannesburg. Sommige van die myne is so diep as 3 000 m.

Meer as 950 mynwerkers was verlede week by Sibanye-Stillwater se Beatrix-groudmyn vasgekeer weens ʼn kragonderbreking wat die werkers verhoed het om weer na die oppervlak te kom. Die Demokratiese Alliansie het gesê dié voorval het groot tekortkominge in die nood- en reddingsplanne aan die lig gebring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wanda ·

Ek sal graag wil weet, is daar nog steeds seismoloë ( hoop ek spel dit reg) op die myne. Het destyds met een bevriend geraak op Carltoville. Hy kon vir ure aan my verduidelik en wys hoe hulle dit op skaal kon aandui waneer daar skudding sou kom. Jammer om te hoor van die verliese dit bly erg

health and safety ·

ek bly dit se? oor en oor? kyk na health and safety, mense word sogenaamd opgelei, health and safety maatskappy maak miljoene, en dis not up to standard, kususse, eksaminering, maar die ou wat sogenaamd die eksamens doen, is eintlik net een gekwalifiseerde ou se nommer wat vir derduisende myners/studente gebruik word!!!!!! hy nie eers daar nie, sy naam en nommer word gebruik!!!!! ek het hierdie dinge beleef!!! vir n maatskappy gewerk met die praktyk, ek is weg by hulle oor dit. het my n rukkie gevat om dit agter te kom,

W ·

Ek verwys na die Beatrix-voorval. Hierdie hele storie word uit proporsie geruk! Ja, die mense kon nie ondergrond uitkom nie. Hulle lewens was egter nie in gevaar nie. Hulle het kos en water gekry. Hier was ‘n hewige storm, storms soos ons nie gewoond is in die Vrystaat nie. En ek stem saam dat Health & Safety ‘n groter rol moet speel met bekwame, opgeleide perosne. Maar ek dink ook mense wat nie regtig bewus is van wat gebeur het en hoe dit gebeur het nie, moet liefs nie aannames maak nie. Daar is hordes Health & Safety praktyke in plek. Dis nie van sommer-net nie. Ongelukkge gebeur ongelukkig. Onvoorsiene omstandighede.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.