Twee name genoem in wedloop om James Selfe te vervang

James Selfe. (Foto: Jonisayi Maromo/ANA)

Twee name is besig om stadigaan in DA-kringe na vore te tree as vroeë voorlopers om James Selfe te vervang as voorsitter van die DA se federale dagbestuur.

Hulle is die DA-hoofsweep, John Steenhuisen, en die party se nasionale woordvoerder, Solly Malatsi.

Nie een van die twee is al bereid om te sê of hulle in Oktober tydens die volgende sitting van die DA se federale raad aan die verkiesing om Selfe te vervang gaan deelneem nie, maar as jy met lede van die federale raad praat is dit die name wat na vore kom.

Selfe het die afgelope naweek aangekondig dat hy die tuig gaan neerlê. Hy is die enigste voorsitter van die federale raad wat die DA sedert die ontstaan van die party in 2000 gehad het.

Hy het oor die jare ontwikkel tot die persoon wat die dag-tot-dag politieke bestuur van die party behartig het, en as die party se geheue en gewete opgetree het.

Steenhuisen het in Pinetown grootgeword en is al sedert die stigting van die DA ʼn lid van die party. Hy het sy politieke tande gesny as wyksraadslid vir Durban-Noord in die Ethekwini-metroraad, wat Durban en omstreke bedien.

Daarna is hy verkies tot die KwaZulu-Natalse wetgewer, waar hy koukusleier geword en Roger Burrows as provinsiale leier opgevolg het. Steenhuisen is mettertyd tot die Nasionale Vergadering verkies. Hy was aanvanklik die woordvoerder oor plaaslike regeringskwessies en het in 2014 die party se hoofsweep geword. Hy is getroud met Terry Steenhuisen en het drie kinders, waarvan twee uit ʼn vorige huwelik.

Die egpaar pendel tussen Salt Rock en Houtbaai.

Malatsi is ʼn jarelange DA-lid wat Helen Zille se woordvoerder was toe sy Kaapse burgemeester en later DA-leier geword het. Hy kom uit Limpopo en is ʼn gesoute marathon-atleet wat pas weer die Comrades-marathon tussen Durban en Pietermaritzburg voltooi het.

Malatsi het in 2014 ʼn DA-parlementslid geword en was die woordvoerder oor sport voordat hy die nasionale woordvoerder geword het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Kallie ·

Die DA moet besef hul einde kom nader. Wat SA nodig het is ‘n sterk sentrale party.

willem Botha ·

Net n gejaag na wind Auntie Pat gaan julle n loesing gee met die volgende munisipale verkiesing en in die res van die land gaan julle val soos die ekonomie.

Annamarie Olivier ·

Willem Botha, Aunty Pat het die ANC skip geklim sy het klaar gesink!

Dries du Toit ·

De Lille is n opportunis wat haar eie mense sal verkoop vir n posisie. Hoe vinniger sy van die aardbol verdwyn hoe beter. Sy het nou letterlik al onder talle vaandels die politiek bedryf. Ek word naar as ek aan haar dink.

MC ·

Raak ontslae van politiek en elke politikus in hierdie land. Dis presies waaroor dit gaan soos wat dit gaan. Hulle lieg en bedrieg en manipuleer die gewone man op straat soos ‘n klomp pionne om hulle eie agendas te dryf. Ek is al naar daarvan.

Gert van Wierdapark ·

Miskien moet James nou Self sy opvolger aanwys!?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.