Twee nie meer van moord op DA-raadslid, man aangekla nie

Monica en Basil Deniacos. (Foto: verskaf)

Die twee Malawiese werkers wat in hegtenis geneem is in verband met die moord op hul werkgewers, Basil en Monica Deniacos, sal steeds Maandag in die hof verskyn maar nie meer op aanklag van moord nie.

Volgens ao. Lynda Steyn, woordvoerder van die Valke, word die twee werkers nie meer met die moord verbind nie maar sal hulle steeds in die hof verskyn op aanklagte dat hulle onwettig in die land is. Die twee het vir die Deniacos-egpaar gewerk en op die erf gewoon.

Die Valke het Saterdag bekend gemaak die twee werkers, 25 en 29 jaar oud, is in hegtenis geneem. Een van die werkers het Vrydagoggend op die egpaar se bebloede liggame afgekom.

Peter Dorfling, Monica se seun, het vroeër aan Rapport gesê hy is oortuig daarvan dat die twee werkers nie sy ma en stiefpa vermoor het nie.

Volgens Steyn is die egpaar se Toyota-bakkie, registrasienommer DPL 149 FS, en ʼn vuurwapen wat tydens die moord gesteel is, steeds soek. Niemand anders is al in verband met die moord in hegtenis geneem nie.

Maroela Media het vroeër berig ʼn huiswerker het omstreeks 07:30 op Monica (68) se bebloede liggaam in die gang van die egpaar se huis in Dealestraat afgekom. Haar man, Basil (74), se bebloede liggaam is in ʼn kamer tussen ʼn bed en die muur gevind.

Monica, ʼn gemeenskapsaktivis, was sedert 2017 die DA se enigste raadslid in die Tokologo- plaaslike munisipaliteit. Monica was ook jare lank ʼn vooraanstaande sakevrou in Dealesville.

Die DA het vroeër sy skok oor die moord uitgespreek en sy medelye met die familie, geliefdes, vriende en die gemeenskap van Tokologo in dié hartseer tyd betuig.

Enigiemand met inligting oor die voorval word versoek om die ondersoekbeampte, ao. Hennie Brummer, by 082 466 8604 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
zeno

Ek wil net graag weet by MM hoeveel plaasmoorde se skuldiges is al gevang en gevonnis.

Mieliestronk

Ek kan dit nie verstaan nie.CR het gesê hy is die President van al die mense van die land. Nou wonder ek het die man n tong. Want blankes word vermoor maar hy wat gesê het hy is die President vir almal praat nie n woord nie . Dit is dat ek dink hy het sy tong verloor.
Want hy praat nie ‘n woord oor die moorde nie.

riana

Hierdie is naby my hart. Sy is die ouma van my kind se beste vriend. Ons harte is stukkend , wanneer gaan dit stop!!!!!