Twee noodoperasies vir baba wat byna verdrink

Aiden Roberts. Foto: Verskaf

Aiden Roberts. Foto: Verskaf

Aiden Roberts, die 18 maande oue baba van Middelburg in Mpumalanga wat twee weke gelede byna in ʼn swembad verdrink het, moes die naweek twee noodoperasies ondergaan.

Clarise Roberts, Aiden se ma, het gesê haar seuntjie se toestand het sedert Woensdag versleg. “Hy was ’n bietjie verkouerig voordat hy in die swembad geval het en nou het hy ʼn virus in sy longe wat sy longetjies baie swak maak.”

“Hulle moes hom Vrydagaand teater toe vat vir ʼn Ecmo-behandeling [ʼn behandeling waartydens suurstof in die bloed geplaas word om die longe kans te gee om te herstel] en nou moet ons eers wag dat hy gesond word. Die dokters het gesê sy longe lyk in hierdie stadium soos ʼn spons, wat nie ʼn goeie teken is nie.”

Sy sê Aiden is Sondagaand wéér teater toe gehaas nadat sy niere begin ingee het. “Net voordat hy teater toe is, het sy hartjie vier minute gaan staan, maar die dokters kon daarin slaag om hom weer by te bring. Nou is daar ʼn groot masjien langs sy bed waardeur sy bloed gesirkuleer en dan teruggepomp word in sy lyfie in. Die dokter het darem ná die operasie gesê sy hartklop, bloeddruk, en so meer lyk baie beter as voor die operasie.”

Maroela Media het vroeër berig dat Aiden in die swembad beland het toe sy oupa per ongeluk die hek na die agtertuin oopgelos het omdat hy onder die indruk was dat Aiden saam met sy ouers winkel toe is. Clarise het kort daarna by die huis gekom en haar kind in die swembad sien dryf met sy gesig na onder.

Sy en haar man bly sedert die ongeluk by haar ma in Centurion en ry op en af na die Netcare Garden City-hospitaal in Johannesburg om by Aiden te wees.

“Ek voel baie moedeloos omdat dit weer slegter gaan met hom, maar ek glo alles gaan reg uitwerk. Ek bly droom dat hy wakker is en lag en speel, So, ek glo hy gaan een van die dae weer opstaan. Ons moet nou net wag vir ons wonderwerkie,” het sy gesê.

Lees alle vorige berigte oor Aiden hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Louis ·

Baie sterkte aan die ouers en grootouers !!
Dit kan nie lekker wees nie !

faith ·

Ai ons bid vir kleinding dat hy gou beter sal wees, weet dit is moeilik maar bly sterk en praat baie met hom al dink jy hy hoor nie

SNEL ·

Baie sterkte aan die ouers en die grootouers, ons bid vir julle en glo en vertrou dat hy 100% sal herstel.

Francis Linstrom ·

Verskriklik jammer vir almal betrokke en bid vir volkome herstel. N lewensles. As jy n hek kry wat toegemaak is dan sorg jy dat hy weer toegemaak word as jy dit oopgemaak het. Dit is nie n ornament nie. Dit is daar gesit om iets buite of binne te hou.

CHRISTA ·

Ek hoop en bid dat hy nie breinskade opgedoen het nie en dat hy gou sal herstel!! Sterkte vir julle almal!!

Petro ·

Liewe Aiden ons bid dat Liewe Jesus jou hierdeur sal dra elke sekonde!Aan die ouers en groot ouers baie sterkte ons almal bid vir Aiden se beterskap en dat GOD julle elkeen sal dra in die tydjie.

Estie - Namibia ·

Baie baie sterkte aan die ouers en groot ouers van kleine Aiden. Aiden, daar is baie mense wat op ‘n daaglikse basis vir jou bid, en ek glo en vertrou jy gaan binne kort sommer weer kan rond spring en hardloop, net soos julle kan doen op so oulike ouderdom.

Shimone ·

Baie baie sterkte vir die hele familie, en veral vir die mamma en pappa. Ek kan ni op hou om aan julle te dink nie. Ek is deur dieselfde ervaring. In julle geval is daar nog lewe, so daar is nog hoop. Ek bid vir julle.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.