Twee NVG advokate van rol geskrap

Adv. Nomgcobo Jiba. Foto: GovernmentZA/Flickr

Adv. Nomgcobo Jiba. Foto: GovernmentZA/Flickr

Twee hooggeplaaste amptenare van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), adv. Nomgcobo Jiba en adv. Lawrence Mrwebi, se name is Donderdag van die rol van advokate geskrap nadat die Algemene Balieraad van Suid-Afrika ʼn aansoek in die hooggeregshof in Pretoria gebring het.

Jiba is die adjunk-direkteur van openbare vervolging, terwyl Mrwebi aan die hoof staan van die eenheid vir gespesialiseerde handelsmisdaad. Die balie se saak teen adv. Sibongile Mzinyathi is van die hand gewys.

Die aansoek teen Jiba en Mrwebi hou verband met hul betrokkenheid by die besluit om die korrupsie-aanklagte teen die geskorste hoof van misdaadintelligensie, Richard Mdluli, te laat vaar. Jiba en Mrwebi het ook goedkeuring gegee dat Johan Booysen, die geskorste hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, op ʼn aanklag van rampokkery vervolg word.

Die hof het bevind Jiba het “ʼn versteekte motief” gehad in die Mdluli-saak en dus die wet en die Grondwet oortree. Die hof het gesê Jiba en Mrwebi is nie meer geskikte en gepaste persone om op die rol van advokate te wees nie.

Jiba se regspan het reeds aangedui sy gaan teen die hof se uitspraak appelleer.

Die DA het kort na die uitspraak gereageer deur te sê dit is pres. Jacob Zuma se plig om Jiba onmiddellik af te dank. “Die feit dat [Jiba] steeds in haar pos is, sonder dat sy ondersoek is, bewys sy geniet presidensiële beskerming. Indien die president enigsins ernstig is daaroor om die integriteit van die NVG te herstel, moet hy haar onmiddellik afdank of ʼn ondersoek na die bewerings teen haar laat doen, wat uiteindelik tot haar afdanking sal lei,” het die party gesê.

Die DA het gesê Mwrebi moet ook onmiddellik afgedank word, aangesien hy Jiba gehelp en ondersteun het in haar pogings om “diegene na aan haar te beskerm in oortreding van die wet en behoorlike prosesse”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Alida ·

En dit is nou mense wat veronderstel is om integriteit te he. Seker JZ se aanstellings.

hans ·

Die 2 betrokkenes moet hulle eie fondse gebruik om te appelleer en nie belastingbetalersgeld. Die saak was teen hulle in hul persoonlike hoedanigheid.

Doris ·

Daar is nog baie Advokate wat nie daar hoort nie ek het bewyse en kan my storie stel. Hulle moet summier uit geskop word, want daar hoort net eerlike mense by die N.V.G. wat die publiek kan vetrou wat nie die geval is nie.

snoefie ·

at asb Doris stuur jou storie en bewyse na elke koerant en tydskrif in die land.

Doris ·

Tata advokaat Jiba ek dink daar is nog baie advokate wat die trekpas saam met jou by die N.V.G. kantore moet kry, want dit is tog mense wat ons publiek moet kan vetrou wat nie die geval is nie as ek kyk na briewe wat ek het kan ek nie glo dis mense wat in ons howe optree nie.

Doris ·

Jammer hulle plaas nie my kommentaar nie want hulle wil nie dat die mense die waarheid sien nie.

Hasie ·

Lyk vir my daar gaan nog ‘n hele paar hoë koppe hard val oor die korrupsie probleem.

Lance ·

Kan zuma nie maar ook gaan nie want hel alles is n gemors met hom aan die stuur …kannie eers sy eie 9 punt plannetjies onthou nie …hehe …PATETIES !

Popeye ·

‘n lekker gemors hierdie, georkestreer deur dofkoppe met zero integriteit

Adam ·

Dis maar die klein vissies die ……om die aandag van die grotes af te lei

GES ·

Die twee is soos in die dae van Ester met hulle toue gehang. Die wiel wat draai trap baie seer.

John ·

Sjoe tog! Watter skandelike ou klompie is ons nie… En die hoogs heilige ANC met hul kamtige etiese waardes a la Mandela, pop nou uit as ‘n spul kansvatter en… en vatters. Watter swak voorbeelde vir die jongeres wat al klaar net wil doen wat hulle wil.

Zumie ·

In die ou bedeling was daar ‘n “prokureur -generaal” vir elke streek. Met die nuwe bestel is daar toe ‘n “nasionale” kantoor daargestel wat beheer kry oor die “streke” met ‘n klomp nuwe aanstellings. Ook op laervlak is daar “senior” aanklaers aangestel om beheer te voer oor die “werkende” aanklaer. Insiggewend om te kyk wie hierdie aanstellings was. Dit is duidelik dat die struktuur verander het van een wat net sy werk doen tot ‘n beheernetwerk wat ingestel word om die wat hulle werk moet doen te beheer…. en dan kyk ons wie word in die beheerposisies aangestel. Prentjie duidelik ….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.