Twee ontsnap gou ná inhegtenisneming

Kgomotso Maleka (links) en Mmakhudu Bafana Sithole (Foto verskaf deur SAPD/Limpopo)

Die polisie in Westenburg buite Polokwane in Limpopo het ʼn groot soektog van stapel gestuur na drie vermeende kapers, van wie twee Saterdag uit aanhouding ontsnap het kort ná hul inhegtenisneming.

Die motor, ʼn Toyota Corolla, wat weer gevind is, is vroeër by ʼn vulstasie in Seshego gekaap.

“Beamptes was op patrollie toe hulle omstreeks 03:00 ʼn verdagte voertuig in Nirvana opgemerk het,” het kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, gesê. “Toe hulle die voertuig wou voorkeer, het die bestuurder weggejaag.”

Die polisie het, met behulp van ʼn plaaslike veiligheidsmaatskappy, die motor agternagesit tot die verdagtes ʼn paar kilometer buite die stad voorgekeer is. “Die bestuurder, gewapen met ʼn vuurwapen, het uitgespring en weggehardloop. Die ander twee verdagtes is in hegtenis geneem. Polisiebeamptes het die motor deursoek en beslag gelê op ʼn 9 mm-vuurwapen en vyf patrone.”

Foto verskaf deur SAPD/Limpopo

Sake van die besit van ʼn vermoedelik gekaapte motor en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen is aanhangig gemaak.

“Die twee verdagtes, Kgomotso Maleka (20) en Bafana Sithole (30) is na Polokwane-polisiestasie vervoer vir aanhouding. Hulle het op die hoek van Grobler- en Kerkstraat in Polokwane egter agter van die bewegende polisievoertuig afgespring. Polisiebeamptes het dadelik na hulle begin soek, maar alle pogings was tevergeefs.”

Enigiemand wat inligting het oor die twee ontsnapte verdagtes of hul medepligtige word versoek om speurderkonstabel Braidon Pheme te kontak by 073 344 6556.

Die polisie se ondersoek oor die omstandighede van die ontsnapping duur voort.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

JohanR ·

My gooiste….was die motor ‘n oop bakkie of ‘n oop polisiewa waar die agter deur nie gesluit was nie? As jy nie ‘n SA lag nie dan gaan jy huil!

johanf ·

Ag nee….. Julle kan nie eers ń verkoue in die winter vang nie…. Hoekom was die vangwa se deur nie gesluit nie, ek verstaan nie……

Petrus Johannes ·

Hiers n stink vis was iemand bang daar word name genoem VRA MAAR NET

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.