Kol. Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder, het Maandagaand bevestig dat Monti Shai en Koketso Nkoana weer vasgetrek is nadat hulle Sondag uit die Tubatse-polisiestasie ontsnap het. Hulle het saam met vier ander ontsnap nadat hulle ʼn gat in die ogiesdraad van die oefenkamer gesaag het.
“Die soektog na die ander ontsnapte verdagtes gaan steeds voort. Shai en Nkoana sal Woensdag in die hof verskyn op ʼn aanklag van ontsnapping uit wettige aanhouding,” het Otto gesê.
Maroela Media het vroeër berig dat genl.maj. Lesiba Mashilo, waarnemende provinsiale polisiekommissaris, ʼn volledige interne ondersoek na die twee voorvalle van ontsnapping van stapel gestuur het. “Indien dit aan die lig kom dat daar nalatigheid aan die kant van die polisiebeamptes was, sal dissiplinêre stappe beslis teen die skuldige lede gedoen word,” het Otto gesê.