Twee ontsnaptes onder sewe wat polisie aankeer

(Argieffoto)

Die polisie in die Oos-Kaap het die naweek groot sukses behaal deur sewe vermeende renosterstropers vas te trek. Twee van dié mense is boonop sedert verlede jaar gesoek nadat hulle uit aanhouding ontsnap het.

Volgens ao. Majola Nkohli, polisiewoordvoerder, het ʼn taakspan van die polisie Saterdag tydens ’n intelligensiegedrewe operasie inligting opgevolg wat hulle aanvanklik na vyf van die verdagtes gelei het.

Volgens die inligting was die vyf verdagtes in ’n silwer Hyundai i10 op pad na ’n selfoonbatterytoring in die Tarkastad-omgewing.

“’n Voertuig wat voldoen het aan die beskrywing van die verdagtes se voertuig, is Saterdagmiddag op die R61 – in die rigting van Tarkastad, sowat 20 km buite Komani – opgemerk. Die polisie het die motor voorgekeer en die vyf insittendes ondervra,” sê Nkohli.

Die voertuig is ook deursoek en die polisie het beslag gelê op verskeie items wat gewoonlik tydens huisbrake gebruik word. Die toerusting is sowat R100 000 werd. Al vyf mans is in hegtenis geneem.

“’n Voorlopige ondersoek het aan die lig gebring dat een van die insittendes gesoek word vir sy vermeende betrokkenheid by ’n voorval van renosterstropery in die Wes-Kaap,” sê Nkohli.

“Minstens vyf van die sewe verdagtes word met renosterstropery verbind en sal na verwagting Dinsdag in die hof verskyn.”

Die taakspan het verdere inligting opgevolg wat hulle Sondagoggend na ’n huis op Mthatha gelei het en waar nog twee verdagtes aangekeer is. Dié twee mans het verlede jaar uit die Makhanda-gevangenis ontsnap en is sedertdien gesoek.

Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste (DKD), het bevestig dat Nhamo Muyambo en Francis Chitho terug agter tralies is. Hulle is onder ʼn groep van sewe gevangenes wat in Oktober verlede jaar uit die tronk op Grahamstad ontsnap het. Daar word nog na twee van die gevangenes wat destyds ontsnap het, gesoek.

Lt.genl. Nomthetheleli Mene, provinsiale polisiehoof, het die taakspan geloof vir hul harde werk om die verdagtes vas te trek.

“Ons hoop die inhegtenisnemings sal ’n afname in renosterstropery in die provinsie teweegbring,” sê Mene.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Di ·

More is hulle weer terug op straat en gaan net aan waar hulle opgehou het. Kriminele het ‘n lekker lewe hier, daarom vlug almal na SA toe

domheks ·

5-ster behandeling in die tronke – op belastingbetalers se onkoste! More weer vry gelaat op straat.

Niklaas ·

Na borg oor ‘n week toegestaan is , hoor ons nooit weer van hulle , tot die volgende arrestasie , vir renoster stropery.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.