Twee ontsnaptes weer agter tralies

Nkululeko Nkomo is weer agter tralies. (Foto: Verskaf)

Die polisie kon daarin slaag om twee van die ses verhoorafwagtendes wat gister ontsnap het, weer in hegtenis te neem.

Die gevangenes was op pad na die hof in Vosloorus toe die polisievragmotor wat hulle vervoer het, deur drie gewapende mans in ʼn silwerkleurige Audi op die hoek van Barry Marais- en Rondebultweg in Boksburg oorval is.

ʼn Taakspan is onmiddellik saamgestel en het laat Vrydagaand ʼn deurbraak gemaak. “Nkululeko Nkomo en Robert Hlatshwayo is ná ʼn wenk van die publiek by ʼn vulstasie in Olievenhoutbosch buite Centurion aangekeer,” het Elias Mawela, provinsiale polisiekommissaris, Saterdag gesê.

Die soektog na die ander vier ontsnaptes duur voort. ʼn Derde verdagte is intussen in hegtenis geneem omdat hy die ses glo gehelp ontsnap het.

Vyf van die ses ontsnaptes moes in die hof verskyn in verband met ʼn saak van poging tot moord, sakeroof en die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen.

Die sesde verdagte sou vir die eerste keer in die hof verskyn op aanklag van winkeldiefstal.

Mawela het die publiek aangemoedig om steeds op die uitkyk te wees en wenke aan die polisie deur te gee, aangesien dit hulle van groot hulp is in hul soektog na die verdagtes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.