Twee ook vas vir moord ná voorval op plaas

Argieffoto

Twee mans wat in Augustus in hegtenis geneem is nadat ʼn vermeende dief glo op ʼn plaas in die Mooinooi-omgewing in Noordwes verdwyn het, word nou ook van moord aangekla.

Die twee mans, 27 en 60 jaar oud, is aanvanklik op 29 Augustus in hegtenis geneem op aanklag van regsverydeling. Dit het gevolg nadat hulle glo vroeër dié maand twee mans betrap het waar hulle besig was om koperkabels en sproeiers op die plaas te steel.

Volgens brig. Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder, het een van die vermeende diewe weggehardloop en sy beweerde medepligtige, ʼn 31-jarige man, agtergelaat. Die polisie is eers ʼn paar dae later van die voorval in kennis gestel, volgens Mokgwabone, en is daar besef dat die 31-jarige man vermis word.

Die polisie het die twee mans wat die vermeende diewe betrap het ondervra. Hulle het ontken dat hulle enigiets weet omtrent die vermeende dief se verdwyning. Die mans is egter ná ʼn soektog op die plaas op aanklag van regsverydeling in hegtenis geneem. Hulle het op 2 September in die Brits-landdroshof verskyn en is op borgtog van R500 elk vrygelaat voordat die saak tot 30 Oktober uitgestel is.

Die twee mans is egter Dinsdag weer in hegtenis geneem en sal volgens Mokgwabone nou ook van ontvoering en moord aangekla word. Hulle sal na verwagting vandag op die aanklagte in die Brits-landdroshof verskyn.

Volgens Mokgwabone is die twee mans in hegtenis geneem nadat die polisie Maandag weer na die plaas is nadat inligting ontvang is. ʼn Soektog het glo drie leë magasyne en vermoedelik menslike oorskot opgelewer waarna die inhegtenisnemings gevolg het.

Mokgwabone het gesê die ondersoek na die voorval duur voort.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

HAB ·

Dis snaaks om te hoor hoe vinnig hulle ‘n dief se kamstige moordenaars op spoor.

Diertjie ·

Stem saam HAB en van plaas moordenaars wat gevang word hoor mens maar selde!!! Maak my siek!!!!

jakes ·

Indien die 2 mans wel met die vermeende dief afgereken het was dit sy verdiende loon. Plaasmoordenaars word weinig gevang, aangekla of gevonnis. Jammer dat een van hulle weggekom het.

Andre ·

@HAB en Diertjie: die voorval is deur Mooinooi SAPS ondersoek. Daardie SAPS kantoor het ‘n reputasie van behoorlike speurwerk doen (onthou bv. die Mooinooi moorde van die twee vroue wie verdwyn het?). Moet dus nie te gou afleidings maak wat dalk nie so is nie. Die SAPS lede van Mooinooi is puik. Vriendelik, behulpsaam en effektief. Indien die res van die land se polisie op hul standaard was, sou dinge baie meer positief wees.

lh ·

En die Matthew Benson saak Andre? hulle het hul uiterste bes probeer om die jongman se lewe te verwoes! tot Hooggeregshof toe, sonder bewyse of ‘n lyk . . .

Jacques ·

Ja Andre, snaaks ek het saak gevolg en wie moes ingeroep word om te help ondersoek?

H ·

Indien die ondersoek volgens die inhoud van die berig korrek is dan bewys dit weer die waarheid kom altyd uit. Moenie reg in eie hande neem nie. Moenie vir jouself ‘n gat grou nie …

Frank ·

H, kan nie probeer om jou van die frustrasie vlakke op plase te vertel waar sulke en soorgelyke diefstalle gereeld plaasvind nie. Kniehalter die hele plaasoperasie vir ‘n paar dae, praat nie eers van kostes nie.
Wens die land se regstelsel wil die ou rottang pakslae terugbring vir sulke en soortgelyke gevalle. Hierdie ouens is in elk geval gou weer op straat en het niks beter of wyser geword nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.