Twee op Instagram uit duisende rande bedrieg

Instagram (Foto: Rusa)

Die polisie in Phoenix, KwaZulu-Natal, ondersoek ʼn saak van bedrog nadat twee mans die afgelope naweek glo uit duisende rande op Instagram geswendel is.

Volgens Prem Balram, woordvoerder van Reaction Unit South Africa (Rusa), het die twee mans van Durban by Rusa om hulp aangeklop. Dit volg nadat hulle glo afsonderlik deur ʼn vrou wat haar as Miss Collins op Instagram voorgedoen het, bedrieg is. Dié vrou het na bewering onderskeidelik R15 500 en R3 000 van die mans “gebuit”.

“Volgens die mans het hulle met ʼn Suid-Afrikaanse vrou op Instagram gesels en is hulle op dieselfde sosialemediaplatform aan ʼn persoon voorgestel wat klein bedrae geld vir kliënte belê. Hoë opbrengste op ʼn minimum belegging van R1 000 is aan hulle belowe,” sê Balram.

“Toe die geld oorbetaal is, het die vrou kontak gemaak en gevra vir meer geld, nog voordat die rente uitbetaal is.” Die twee het egter snuf in die neus gekry en nie nóg geld oorbetaal nie.

Die mans glo die vrou is eintlik van New Jersey, VSA, nadat haar profiel en nommer opgespoor is.

Volgens die private ondersoeker Mike Bolhuis is aanlyn swendelary een van die misdade wat tans wêreldwyd die meeste voorkom. Dit het die afgelope twee jaar – sedert die aanvang van die Covid-19-pandemie – eksponensieel toegeneem. Hy sê dit kom al die afgelope tien jaar voor, maar neem toe namate mense meer gereeld aanlyn verkeer. “Die aanlyn boewe leer ook die nuutste skelmstreke by mekaar soos dit in die media te voorskyn kom,” het Bolhuis gesê.

Volgens Bolhuis kry sy ondersoekspan veral te doen met skelms wat items aanlyn smous en mense se geld op só ʼn manier steel.

Hy sê die boewe teiken ook mense se “sagte plekke” ­– deur byvoorbeed eensames met ʼn kans op liefde of diereliefhebbers met diere wat swaarkry te lok.

Bolhuis raai lede van die publiek aan om nie oorhaastig op tree nie en altyd eers goed hul huiswerk te doen voordat hulle produkte aanlyn koop of aanlyn by vreemdes betrokke raak.

“Daar moet deeglik evaluering gedoen word van enigiets wat aanlyn geadverteer of aangebied word. Gebruik ook jou gesonde verstand om te weet dat jy nie by iets betrokke moet raak wat té goed klink om waar te wees nie.”

Bolhuis sê mense moet ook swendelaars op aanlyn platforms aanmeld. “As jy iets sien wat soos ʼn swendelary lyk, meld dit aan, want só kan ons dit begin beveg.”

Maroela Media het vroeër berig van ʼn vrou wat ʼn slagoffer na bewering uit R1,9 miljoen bedrieg het tydens ʼn aanlynromanse-bedrogspul.

Die slagoffer het die vrou, wat haar as die Wes-Kaapse sakeman Allen Grey voorgedoen het, aanlyn ontmoet en die twee het van Desember 2016 tot Januarie 2018 aanlyn ʼn verhouding gehad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hennie ·

As jy dom is moet jy maar jou geld verloor! Hoeveel keer nog gaan mense blonde lings vreemdelinge vertrou wat hoë opbrengste belowe?

Lindi ·

Ek het absoluut GEEN simpatie met hulle nie. Daar is daagliks 10+ posts op net EEN fb groep (wat ek van weet) waar hulle die tipe goed vir mense belowe. EN dan die stortvloed van “JA” add my asb is skrikwekkend. Durf jy waag om iemand te waarsku, word jy uitgevat vir ‘n mens wat niemand iets gun nie. Nee wat, kry vir jull!!!

VaalDonkie ·

Die slimstes onder ons maak so 12% per jaar maar hierdie ouens wil sommer 12% per week gee. As dit rerig gewerk het, sou almal dit gedoen het.

Swerwer ·

Lekker lag ek nou. Daardie “Dame” kan net sowel een van hierdie ander landsburgers (onwettig) wat so verhoudings met vrouens aangegaan het jare terug en geld uit hul gekry het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.