Twee Oseane-marathon mag voortgaan

(Foto: Twee Oseane-marathon/Facebook)

Die Kaapstad-stadsraad het ʼn finale permit uitgereik vir die Twee Oseane-marathon wat hierdie naweek plaasvind.

“Die besluit kom ná ʼn lang hersiening van die planne van die byeenkoms en stawende dokumentasie soos vereis word deur munisipale wetgewing en die Wet op Veiligheid by Sport en Ontspanningsgeleenthede,” sê JP Smith, burgemeesterskomiteelid oor veiligheid en sekuriteit.

“Die stad is tevrede dat die organiseerder aan die vereistes voldoen,” het Smith bygevoeg.

Maroela Media het vroeër berig ’n groep kerke in Vishoek in die Kaapse Skiereiland is ontevrede daarmee dat die Twee Oseane-marathon op Paassondag plaasvind en wou ’n stokkie voor hierdie gewilde wedloop steek. Volgens die Vishoekvallei-kerkegroep – wat meer as 5 000 gemeentelede verteenwoordig – sal die wedloop ’n impak hê op gemeentelede wat op dié dag nie in staat sal wees om die oggenddienste by te woon nie. Dit is weens talle paaie wat vir die wedloop gesluit sal wees.

“Ná omvangryke, alhoewel laat, pogings deur die organiseerders om behoorlik met die betrokke kerke in gesprek te tree, is daar nou ʼn duidelike verkeersplan vir kerke wat sal seker maak dat Paasdienste kan voortgaan.”

Smith sê die stadsraad erken die belangrikheid van godsdienstige instansies in die samelewing en respekteer die Grondwetlike regte van Christene om kerkdienste tydens Paasfees by te woon asook ander geloofsgebaseerde aktiwiteite wat oor dié naweek plaasvind.

“Om die impak te verlig vir enige aanbidders of ander individue wat met hul sake wil voortgaan, sal die verkeersdienste met marathon-beamptes werk om seker te maak dat aanbidders steeds toegang het tot die kruisings op die roete en seker te maak dat hulle nie onredelik beperk word om hul eiendomme of plekke van aanbidding kan bereik nie.”

Die raad van die Twee Oseane-marathon het ook onderneem om in die toekoms nie weer die byeenkoms oor Paasnaweek aan te bied nie.

Padsluitings vir Saterdag (16 April) se halfmarathon is hier beskikbaar.
Padsluitings vir Sondag (17 April) se ultramarathon is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Marius ·

Dis hoekom dit gaan in die land soos dit gaan. Ons is die pad heeltemal byster.

Johann ·

Maar laat.dit nou enige ander groep of organisasie anders as kerke of Christen belange groep was, is als gestop? Ten minste weet ons nou wat ons gedink het!

Jaco ·

Ek verstaan nie die kerke se bohaai nie:
1. die min of meer permanente inperkingsreëls sê binnenshuise byeenkomste mag net ‘n 50% kapasiteit hê.
2. Dis ‘n langnaweek, so baie kerkgangers gaan in elk geval weg wees, ver van Vishoek se kerke af.

Swerwer ·

Die feit dat Paasnaweek ‘n uiters spesiale tyd in ‘n Christen se lewe veronderstel is om wees net soos Sondae en alle ander Christelike dae. Om sport te beoefen is hierdie tyd is verkeerd, daar is 6 ander dae in ‘n week waarop dit gehou kon word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.