Twee oudministers moet verduidelik oor staatskaping

Mosebenzi Zwane.

Twee oudministers van minerale hulpbronne in die Zuma-era gaan voor die parlement gedaag word om oor staatskaping te getuig.

Die parlementêre portefeuljekomitee oor minerale hulpbronne het Woensdagoggend besluit dat sowel adv. Ngoako Ramatlhodi as sy opvolger, Mosebenzi Zwane, voor die komitee sal moet verskyn om hul beweerde aandeel in staatskaping te verduidelik.

Ramatlhodi, wat ook ʼn oudpremier van Limpopo is, sal moet verduidelik waarom hy in 2015 die maatskappy Optimum se mynlisensie teruggetrek het, en dit toe weer byna onmiddellik toegestaan het. Luidens die dokumentasie voor die portefeuljekomitee sal hy moet verduidelik hoekom hy die myn “geteiken” het.

Zwane, wat as een van die sterkste Gupta-kontakte in die Zuma-regering beskou is, gaan die heel laaste getuie wees wat geroep word, gegewe dat hy as sentraal tot staatskaping in die mineralebedryf beskou word.

Ses ander sleutelgetuies is reeds deur die portefeuljekomitee geïdentifiseer. Hulle is:

* Joel Raphela, voormalige adjunk direkteur-generaal van minerale hulpbronne belas met minerale-regulasie, wat saam met Zwane na Switserland gereis het om met die hoofde van die mynmaatskappy Glencore te ontmoet, na bewering op instruksie en in belang van die Guptas, blykbaar om die Gupta-gekoppelde Tegeta as voorkeur-koper vir Optimum te bevorder;

* David Msiza, voormalige waarnemende direkteur-generaal van minerale hulpbronne, oor wie die destydse openbare beskermer, adv. Thuli Madonsela, bevind het dat hy onwettig opgetree het met betrekking tot die kanalisering van geld na die Gupta-gekoppelde Bank van Baroda;

* Twee voormalige waarnemende hoofinspekteurs van myne, mnre. Mbonambi en Zondi, wat glo laks was met die toepassing van mynveiligheidsmaatreels;

* Die operasionele bestuur van Glencore om te getuig oor die druk wat die departement van minerale hulpbronne op hulle uitgeoefen het om die Optimum-myn te verkoop; en

* Piers Marsdon as sakereddingspraktisyn wat Optimum probeer red het, oor die verkoop van Optimum aan Tegeta.

Ngoako Ramatlhodi (regs). Foto: GCIS

Ander getuies sal ook geroep word soos dit nodig blyk, en die ondersoek sal op dieselfde manier as die een oor staatskaping in die departement van openbare ondernemings en die een oor staatskaping in die departement van binnelandse sake gedoen word, met ʼn regsgeleerde wat die getuies lei en getuienis wat sover moontlik in die openbaar afgelê word.

Daar was gister wel vroeë blyke van klemverskil tussen die manier waarop die ANC die saak wil hanteer en die manier waarop opposisiepartye (DA en EFF) daarmee wil handel.

Die komiteevoorsitter en ANC-swaargewig Zet Luzipo was baie versigtig om nie te vinnig te beweeg nie en het die deur baie wyd oopgelos vir geslote sessies, hoewel die parlement se eie regsadviseur daarteen vasgeskop het.

Adv. Hendrik Schmidt, DA-LP, het egter die saak gemaak vir maksimum openlikheid, en het sy frustrasie uitgespreek dat daar steeds geen tydraamwerk ooreengekom is vir die proses wat reeds tien maande lank sloer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

jean ·

Agge nee wat..daar word net gedinges teen ‘n orkaan van korrupsie, diefstel, verkragting en alles wat boos is in hierdie landjie…..

Wolf ·

Eish, Zumpie het sy “kaders” mooi ge piek ne? Ek hoop hulle sal die straf kry wat hulle toekom. Net nog n bewys van die eie ek, en net ek, houding van die Heersende politieke party. Mag die Guptas hulle dag ook kry.

Oom Kalahari ·

Mnr Zuma en sy Gupta clan het hul keuses mooi gedoen om die Staat koffers goed te melk. Hul het gehoor van die woord melk en heuning en dit misbruik.

Colleen ·

Hulle gaan weer lieg en daarmee wegkom en so sloer die saak en regskostes skiet die hoogte in en die belastingbetaler moet opdog, ens, ens, ens.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.