Twee pare sterf in trompop botsing

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto)

Twee pare is vroeg Vrydagoggend in ʼn trompop botsing op die R42 tussen Delmas en Bronkhorstspruit dood. Nog twee mense is in die ongeluk ernstig beseer.

Moeti Mmusi, woordvoerder van die departement van gemeenskapsveiligheid in Mpumalanga, sê twee sedans het om 05:30 teen mekaar gebots en die lewe van twee mans en twee vroue geëis.

“In albei motors is die bestuurders en die passasiers langs hulle op die toneel dood verklaar.”

Nog twee mense het ernstige beserings in die noodlottige ongeluk opgedoen en is op die toneel gestabiliseer voordat hulle na ʼn hospitaal in Delmas geneem is vir behandeling.

Dit is nog nie duidelik wat die ongeluk veroorsaak het nie, maar ondersoek word reeds ingestel.

Vusi Shongwe, LUR vir gemeenskapsveiligheid in die provinsie, het weer ʼn beroep op motoriste gedoen om versigtig te wees wanneer hulle die paaie gebruik.

“Ons is hartseer oor die voortdurende lewensverlies op ons paaie. Ons almal moet daarop let om ten alle tye die padreëls te gehoorsaam en met groot sorg die paaie te gebruik om almal se veiligheid te verseker,” sê hy.

Shongwe het ook sy meegevoel met die oorledenes se families betuig en gesê hy hoop dat die beseerdes vinnig sal herstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.