Twee plaasaanvalle die naweek in die Vrystaat

Argieffoto: Reint Dykema

Argieffoto: Reint Dykema

Daar was die naweek plaasaanvalle in Viljoenskroon en Ladybrand in die Vrystaat.

Tommie Esterhuyse, voorsitter van Vrystaat Landbou (VL) se komitee vir wet en orde, het gesê ses mans het Jannie du Plessis van die plaas Ramdam naby Viljoenskroon Saterdagoggend tussen 01:00 en 01:30 in sy huis aangeval. “Hy het wakker geword van die geluid van iets wat breek en die volgende oomblik is sy kamerlig aangeskakel. Hulle het Du Plessis vasgebind en met wapens en messe gedreig voordat hulle met wapens, sy bakkie en ander goedere op die vlug geslaan het.”

Volgens Esterhuyse kon Du Plessis na sowat twee uur daarin slaag om homself los te wikkel en hy het die polisie en plaaslike veiligheidsstruktuur van die voorval in kennis gestel. “Hy het na sy familie naby hom gery en sy bakkie langs die pad gevind. Een van die verdagtes was nog in die bakkie, maar hy het te voet gevlug toe hy Du Plessis en die polisievoertuie se ligte sien.”

Esterhuyse het Vrystaat Landbou se dank uitgespreek teenoor een van die polisiebeamptes wat sy eie voertuig gebruik het om Du Plessis te hulp te snel. “Die plaaslike polisiestasie se bakkie het Vrydag onklaar geraak en die beampte en drie van sy kollegas het in sy eie voertuig na Du Plessis se plaas gejaag. Du Plessis se bakkie en een gesteelde vuurwapen is teruggevind. Die verdagtes word nog gesoek.”

In die ander voorval is ʼn voorman omstreeks 02:00 Sondagoggend op die plaas Italy in die Ladybrand-distrik aangeval. Volgens Esterhuyse is die 60-jarige ML Masebo ook aangeval terwyl hy geslaap het. “Die verdagtes het Masebo met messe aangehou en geld geëis. Hulle het met kontant op die vlug geslaan. Die verdagtes word tans gesoek.”

Volgens Esterhuyse is ʼn derde plaasaanval Vrydagaand in die Reitz-distrik gefnuik. “Die plaaslike veiligheidsstruktuur en polisie is Donderdag oor die moontlike aanval ingelig. Na meer besonderhede bevestig is, het die polisie en landbouers saamgewerk om die voorval te voorkom. Een verdagte is gevind by die huis waar die vermeende aanvallers glo sou ontmoet. Dwelms is op die perseel gevind, en die verdagte is onmiddellik in hegtenis geneem. Nog inligting word in verband met die voorval opgevolg, en verdere inhegtenisnemings is moontlik.”

Henk Vermeulen, hoof uitvoerende beampte van VL, het sy opregte dank betuig teenoor al die polisiebeamptes wat hul werk getrou verrig en landelike gemeenskappe se belange op die hart dra. “VL wil graag alle landbouers aanmoedig om uiters paraat te wees in die komende maande, veral aangesien misdaad op plase tradisioneel toeneem in dié tyd.”

Esterhuyse het landbouers ook gemaan om streng toegangsbeheer op hul plase toe te pas. “Lig jou werkers in hulle moet jou op hoogte hou van enige besoekers wat hulle verwag en stel die plaaslike veiligheidsstrukture in kennis van verdagte voertuie. Maak ook seker die veiligheidstelsels op die plaas en by jou huis is in ʼn goeie werkende toestand en toets dit gereeld.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

miv ·

Ons boere en hul werknemers moet deurentyd waaksaam wees, hierdie verwoesters is te alle tye bedrywig. Opregte dank aan die wakker polisiebeamptes, julle is min, maar goud werd.

Louisa ·

Ek het die afgelope naweek op n plaas gekuier. Ons sit buite in die lapa en braai, toe ek die boervrou vra of hulle gewere hier naby hulle het, net vir ingeval……….antwoord sy my nee hulle het nie. Is dit nie ‘n bietjie baie onverskillig nie?? Hulle is glad nie parraat nie, en hul vergeet soms om die kombuisdeur te sluit….. En in hulle omgewing was daar al ‘n paar plaasaanvalle!!

Johann ·

Volksmoord voor ons oë..en ons ait en wag vir.die volgende.

Buitestander ·

Ons voedsel voorsienned kan gerus bietjie meer paraat wees, nie bang nie net paraat.
Ek weet mens moet nie net op jouself staat maak nie. Maar voorsorg is beter as nasorg.
.

M ·

Sterkte aan die boere. Die gemors kruip uit hulle gate die tyd van die jaar. Pas julle op.

Lance ·

Al slaap mens net minstens met n pepper spray langs jou bed en sorg dat daar n sterk hek voor jou kamerdeur is en jou vensters diefweering het ….dit gee jou tyd om iets te doen of te bel …sorg vir n selfoon in jou kamer …mens moet viirsorf tref en vir jou tyd koop …kan jou lewe red. Beams om jou huis kan ook goed werk ….dit waarsku jou van beweging buite

Idee ·

Baie Dankie Lance vir die goeie raad. Ek en ander het vele male al vir maroela gevra om gereeld tips te publiseer om ons mense bewus te maak hoe hul hulself kan beveilig. Ek hoop en vertrou maroela doen dit.

Renà ·

Hekke in di gang voor jou kamers en honde binne die huis. En alarmstelsel. Iets moet jou kan waarsku voordat die duiwels voor jou bed staan en jy onkant en weerloos gevang word.

Elize ·

Honde in n huis.maak nie saak is dit in n dorp of op n plaas nie.dit werk uitstekend.my honde slaap elke aand in die huis.en hulle is wakker vir elke geluid rondom die huis.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.