Twee pleeg glo selfmoord weens Ashley Madison-onthullings

Bryce Evans van die Toronto-polisie.

Bryce Evans van die Toronto-polisie.

Twee mense het glo reeds selfmoord gepleeg nadat inligting oor gebruikers van Ashley Madison, die webwerf wat getroudes wêreldwyd help om “skelmpies” op te spoor, verlede week onthul is.

Die webwerf ashleymadison.com moedig buite-egtelike verhoudings aan en het glo sowat 40 miljoen lede oor die hele wêreld. Tot 175 000 Suid-Afrikaners is op dié webwerf geregistreer. Die webwerf se slagspreuk is: “Life is short. Have an affair.

Die Kanadese polisie het Maandag in Toronto gesê die onthulling het moontlik tot twee gevalle gelei waar mense selfmoord gepleeg het. Dit het ook tot verskeie afpersingsake gelei.

Kliënte se adresse, e-posadresse, identiteit en die bedrag geld wat hulle reeds aan die webwerf bestee het, verskyn op die lys wat sowat  9,7 GB data behels.

Bryce Evans van die Toronto-polisie het gesê dié kuberkraak het “enorme maatskaplike en ekonomiese gevolge”.

“Dit is een van die grootste data-oortredings in die wêreld,” het Evans gesê. “Dit raak almal. Ons praat oor families, kinders, vroue en hul eggenote.”

Hy het gesê daar is reeds bevestigde gevalle van misdadigers wat mense wie se name op die lys verskyn, probeer afpers om hulle te ontmasker, tensy betaling ontvang word.

Evans het gewaarsku dat die kuberkrakers se optrede onwettig is en nie geduld gaan word nie.

Avid Life Media (ALM), die maatskappy wat Ashley Madison besit, het Maandag bekend gemaak dat hy ’n beloning van $500 000 (sowat R6,8 miljoen) aanbied vir inligting wat sal help om die kuberkrakers vas te trek.

Die kuberkrakers wat vir die onthulling verantwoordelik is, het ALM van bedrog en onbevoegdheid beskuldig. Die maatskappy het geweier om te buig voor hul eise om die webwerf te sluit. Die kuberkrakers verwys na hulself as die Impak Team.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Nou te laat ·

Ongelooflik sleg vir die mense wat agterbly. Maar nog erger as jy weet jou man / vrou het jou verneuk en dan selfmoord gepleeg oor hulle uitgevang sou word! Die lewe is reeds wreed genoeg. Niemand verdien dit nie.

Bloues ·

Dis jammer om te hoor van lewensverlies MAAR boeta, as jy die kat in die donker knyp en die ligte gaan aan, sal jy uitgevang word. Dra die gevolge soos n man!!

Sollie ·

“…ons praat oor families, kinders, vrou en hul eggenote…” jammer maar die soote moes aan die vroue, families, kinders en eggenote gedink het VOOR hul orig was. GEEN simpatie met die wat uitgevang is hoegenaamd nie.

Strydom-:Stryslim eerder ·

Stem beslis saam met julle, hulle was bereid om te dobbel met die mense in hul lewe, vir hulle eie selfsugtige redes. Dit is n tiepe mens wat dit doen, en die tiepe verdien nie n familie nie. SWAK smaak!

Edmund ·

Ek wil my nie uitspreek oor dit wat hierdie paartjie gedoen het nie. En ook nie oor die gevolge van hulle dade nie. Die punt bly net dat daar niks goed geassosieer kan word met ‘n webtuiste soos hierdie nie!

ronel ·

Well done aan die hackers geen man of vrou verdien om op gecheat te word nie..En vir die wat selfmoord pleeg daaroor is maar net n lafaard geen genade vir hulle

petro ·

Weet jy wat ek se sluit ashley madison heeltemal want jyt al stilletjies jou man vrou en kinders se lewens vernietig selfmoord was maar net die bevestiging en bewyse daarvan mense verneuk nie hoekom skei jy nie jou partner as jy dan wil rondloop nie mense wat verhoudings aangaan is STUPID ja reg gelees STUPID ek sal as ek so tipe mens WAS eerder single wil wees en kan rondsluip sonder om met skuldig gewete te moet lewe as om elke dag te worry wanneer jy uitgevang word en die waarheid kom altyd uit….So ek se WELL DONE HACKERS ontbloot hul sommer vir almal om te sien……

Tascha ·

Sjoe dis nou ‘n tameletjie! Jong, buite-egtelike verhoudings hou selde voordele vir enige iemand in want jy gaan uitgevang word en dis ‘n feit. Ek dink dis maar beter om bietjie die romanse in jou eie verhouding terug te wen deur die dinge te doen wat jy gedoen het toe julle begin uitgaan het. As jy effort maak sal jou maat dieselfde doen maar as jy sulke bollie gaan aanjaag dan dink ek kry jy maar eintlik net jou verdiende loon.

Takkie ·

Oordeel tot in die dood in, moenie terug hou nie. Jy is vlekkeloos en dis jou reg om dit te wys vir almal. Kruisig Hom, Kruisig Hom skreeu ons tesame.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.