Twee polisiebeamptes in KwaZulu-Natal doodgeskiet

Argieffoto

Die nasionale polisiekommissaris het ʼn grootskaalse soektog versoek na die verdagtes wat verantwoordelik is vir die moord op twee polisiebeamptes van KwaZulu-Natal.

Brig. Vish Naidoo, woordvoerder van die polisie, het gesê genl. Khehla John Sitole het die polisie in KwaZulu-Natal opdrag gegee om ʼn grootskaalse soektog van stapel te stuur na die verdagtes ná twee beamptes binne 24 uur in die provinsie doodgeskiet is.

In die eerste voorval is ʼn 55-jarige kaptein Donderdagaand omstreeks 18:40 in New Germany, Pinetown, doodgeskiet. “Die polisiekaptein, wat by Marianhill se eenheid vir openbare orde gestasioneer was, het van ʼn winkel huis toe geloop toe hy doodgeskiet is. Bure wat die geweerskote gehoor het, het gesien hoe ʼn wit Toyota-dubbelkajuitbakkie van die toneel wegjaag,” het Naidoo gesê.

Die kaptein het nog al sy persoonlike besittings by hom gehad, insluitend sy selfoon, beursie en dienspistool. “ʼn Rooftog word dus uitgesluit as motief. ʼn Saak van moord word ondersoek.”

In die tweede voorval het ʼn polisiekonstabel in die hospitaal aan ʼn skietwond beswyk wat hy opgedoen het toe hy en ʼn ander polisiebeampte ʼn verdagte voertuig in Berea, Durban, voorgekeer het. “Toe beamptes die voertuig van albei kante af genader het, het die passasier in die voertuig op die polisiekonstabel geskiet. Die verdagte het daarna op die bestuurder se sitplek gespring en weggejaag. Die oorspronklike bestuurder van die motor is in hegtenis geneem. Die motor is later verlate gevind in Sydenham. ʼn Soektog is van stapel gestuur na die verdagte.”

Sitole het die voortgesette geweld op polisiebeamptes veroordeel. Hy beskryf die jongste voorvalle as “ʼn aanval op die gesag van die staat”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Kas ·

Ja dit is chaos in ons land.Prioritseer plaasmoorde en moorde op polisiemanne.Ek voel net so jammer vir die families van plaasmoordslagoffers.Wat sê jy nou Cele.Wat sê jy nou Sisulu.

Johan ·

Die doodstraf moet al lankal ingestel gewees het. hoekom moet die publiek die peroon in die tronk onderhou.

Cherokee ·

Aanval op die staat, noem hy dit. Niks word gesê oor die aanval op die broodmandjie.

PJC ·

Dinge lyk nie mooi nie maar die minister van polisie hou hom besig met pogings om wettige vuurwapeneienaars te ontwapen. Intussen moor en roof misdadigers na hartelus.

Gemaskerde Sopbeen ·

Vir almal wat nou wil skree “Bring terug die doodstraf” net die volgende: Die doodstraf was nooit weg nie…….dit word nou net deur kriminele toegepas op onskuldige mense en polisie-beamptes, in plaas van deur ‘n regering op kriminele.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.