Twee polisiebeamptes sterf binne 48 uur; vier beseer   

(Foto ter illustrasie: SA Polisie)

Twee polisiebeamptes is die afgelope 48 uur in afsonderlike voorvalle in Gauteng en KwaZulu-Natal vermoor terwyl vier ander beseer is.

Die polisie in dié provinsies het intussen die 72 uur-aktiveringsplan in werking gestel om die verdagtes betrokke by die aanvalle vas te trek.

Kol. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder, sê die jongste voorval het Dinsdag in die Oranjeplaas-nedersetting in Gauteng plaasgevind, waar twee polisiebeamptes op patrollie in ʼn koeëlreën beland het.

“Die polisiebeamptes het ʼn verlate bakkie langs die pad genader toe ʼn groep verdagtes op hulle losgebrand het.

“Een van die beamptes, ʼn polisiereservis, is op die toneel dood verklaar. Die ander beampte het die voorval oorleef en word tans in ʼn hospitaal behandel.”

Volgens Mathe het die verdagtes met die sleutels van die polisievoertuig laat spaander.

“Sake van moord en poging tot moord word ondersoek.”

Nog ʼn polisiebeampte is dood in ʼn skietvoorval Sondag in Greytown in KwaZulu-Natal.

Die polisiekonstabel is doodgeskiet nadat hy en ʼn kollega langs die pad tussen Greytown en Tugela Ferry stilgehou het.

“ʼn Motor het langs hulle stilgehou en daar is op die polisiebeamptes geskiet,” het Mathe gesê.

“Die polisiebeamptes kon na ʼn nabygeleë hospitaal ry waar die polisiekonstabel aan sy wonde beswyk het. Die ander beampte word tans in ʼn gesondheidskliniek versorg.”

Mathe sê die motief vir die aanval is in dié stadium onbekend en die polisie ondersoek sake van moord en poging tot moord.

In ʼn voorval in Greytown is ʼn polisiebeampte deur twee mans oorval toe hy langs die spoorlyn tussen die Gugulethu- en Nhlalakahle-plakkerskamp gestap het.

“Een van die verdagtes het geld en die beampte se selfoon geëis. Die beampte het sy besittings oorhandig waarna hy sy vuurwapen op die aanvallers gerig en een doodgeskiet het.

“Die tweede verdagte het die polisiebeampte in die been geskiet en gevlug.”

Die polisiebeampte het die voorval oorleef en is tans in die hospitaal.

Volgens Mathe is twee ongelisensieerde vuurwapens, asook die gesteelde geld en selfoon in die oorledene se besit gevind.

“Die polisie is tans besig met ʼn geregtelike doodsondersoek en ondersoek ook sake van poging tot moord en gewapende roof.”

Nog ʼn polisiebeampte is Maandag in ʼn skietery in Sydenham in KwaZulu-Natal beseer.

Polisiebeamptes was glo met ʼn patrollie besig op Locksleyrylaan besig toe hulle ʼn verdagte voertuig met drie insittendes opgemerk het. ʼn Oor-en-weer-skietery het kort daarna uitgebreek, waartydens ʼn polisiebeampte gewond is. Die beampte word tans in ʼn hospitaal behandel.

“Die verdagtes het te voet gevlug en ʼn ongelisensieerde vuurwapen en gesteelde motor agtergelaat. Die polisie het daarop beslag gelê en ʼn saak van poging tot moord word ondersoek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Baardman ·

Minister van polisie doen niks. Is hy dalk die meesterbrein agter alles?

Strandloper ·

Glo nie te dom daarvoor. n Jammerte in die geval dat asemhaling outomaties is…

SlinkseKoljander ·

Wel ons polisie is so pateties, ek kan dink hulle gaan nie hulle self goed kan verdedig nie.

Harley Davidson ·

Snaaks hoe die bewoording is ongelisensieerde wapen klink beter as ‘n onwettige wapen ,soos gister se berig boer skiet tiener in plaas van plaaseienaar skiet veedief wat hom aanval ek wonder altyd hoekom dit nie genoem word soos dit is nie

Tiptol ·

Netso Jasper. Die media sê dit nie soos dit is nie, want dit klink te vaal.

Jacobus ·

Kom Cele sé vir ons of die moorde met wettige vuurwapens gepleeg is? Jy wil mos die wettige vuurwapen eienaars ontwapen.

Piet parys ·

Dit sal nie in die 80 ‘ s gebeur het nie maar misdadigers het mos meer regte as die publiek wat die regerende Anc wetlik daar gestel het . En misdadigers het nog boonop stemreg julle patetiese klomp ANC ‘ s.

Casper ·

Ek weet net vrotsige minister gaan sy hele begroting spandeer om gestorwe lede se families te besoek en begrafnisse by te woon as hy nie iets drasties gaan doen nie.

Casper ·

Onbevoeg om sy werk te doen.Soek net skoor met die nasionale kommisaris.Is Rampie regtig so naïef dat hy nie sien die man is useless nie.

Genis ·

So jammer om al die verval te beleef, die totale wetteloosheid in die land… Dis eindelik basiese goed in ander lande (respek, eerlikheid, gehoorsaamheid)… Ek mis die ou dae…

Swerwer ·

Hoed jy moet regtig van staal gemaak wees want jou mense word vermoor en jy sê en doen niks. So baie soos jy in die media was het jy nou verdwynen swyg soos die graf. ‘n 72 uur-aktiveringsplan
word vir SAP lede ingestel, maar wat van die boere wat vermoor en aangeval word?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.