Twee polisiebeamptes sterf in Gauteng

Foto: SAPD, Facebook

Die polisie in Gauteng het sy hartseer uitgespreek oor twee beamptes wat dié naweek in twee afsonderlike motorongelukke dood is.

Brig. Mathapelo Peters, woordvoerder van die polisie, het gesê beamptes van die Atteridgeville-polisiestasie was Saterdagaand besig met ʼn padblokkade op die R511 en die R512 toe ʼn motor teen ʼn hoë spoed in die padblokkade ingeploeg het.

Volgens Peters is ʼn konstabel deur die motor getref en het hy noodlottige beserings opgedoen. Hy is op die toneel dood verklaar. “Die motoris was glo onder die invloed van alkohol en is in hegtenis geneem op aanklag van strafbare manslag.”

In ʼn afsonderlike voorval is ʼn polisiebeampte dood in ʼn ongeluk op die R21 naby die Olifantsfontein-afrit. Volgens Peters was die beampte ʼn passasier in die motor wat teen ʼn vragmotor gebots het. Die beampte, ʼn 38-jarige adjudant‑offisier, en die bestuurder is op die toneel dood verklaar.

Genl.maj. Max Masha, provinsiale polisiekommissaris, het sy meegevoel met die oorledenes se families betuig.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.