Twee polisiebeamptes verbonde aan die Cato Manor-speurtak in KwaZulu-Natal is Dinsdagoggend vroeg dood toe hulle in ʼn botsing met ʼn vragmotor betrokke was.
Garrith Jamieson, woordvoerder van Advanced Life Support, sê paramedici en ander nooddienswerkers is omstreeks 05:30 na die toneel by die N2-afrit op die M7 in ʼn westelike rigting ontbied.
“Paramedici is met hul aankoms daar deur ʼn absolute chaos begroet,” het Jamieson gesê.
Die vragmotor het eers ʼn hele ent verder van waar dit met die polisiebeamptes se voertuig gebots het, op die M7 in die rigting van Durban tot stilstand gekom.
Volgens Jamieson is die beamptes, ʼn man en ʼn vrou, noodlottig beseer. Hulle is op die toneel reeds dood verklaar.
Die vragmotorbestuurder is na ʼn hospitaal vir verdere behandeling geneem.
Kol. Thembeka Mbele, polisiewoordvoerder in KwaZulu-Natal, het gesê ʼn saak van strafbare manslag word ondersoek.
Mbele sê die vragmotorbestuurder het na bewering versuim om by ʼn verkeerslig stil te hou.
“Albei polisiebeamptes, onderskeidelik 37 en 40 jaar oud, het op die toneel gesterf. Die omstandighede rakende die voorval word ondersoek.”
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
9 Kommentare
Waarom is hy nie toegesluit?
O -Ja. Die polisie pas mos die strande op….
Tragies, werklik tragies.
Verwyder dié vragmotors van ons paaie af én dié gewetenlose bestuurders. Ek ken dié pad. Ervaar self hoe jaag hul af Durban toe met geen remme. Sit die goedere op die treine waar dit hoort.
Dit is tragies, maar versuim hulle maar nie almal om by verkeersligte of stop tekens stil te hou nie.
Ek het onlangs tussen Pretoria en die Kaap gereis en sommige vragmotor bestuurders het vir niemand ontsag nie