Twee polisiemanne sterf weens Covid-19

Foto: SAPD/Facebook

Twee polisiebeamptes, een van KwaZulu-Natal en een van die Oos-Kaap, is dood nadat hulle die Covid-19-virus opgedoen het.

ʼn 55-jarige adjudant-offisier van KwaZulu-Natal het op 26 April 2020 gesterf. Hy was 27 jaar lank in diens van die land nadat hy in 1993 as ʼn studentekonstabel by die SAPD aangesluit het.

ʼn Polisiekaptein van die Oos-Kaap het op 11 Mei 2020 gesterf. Hy het 29 jaar lank diens gehad. Hy het in 1991 by die SAPD aangesluit, ook as ʼn studentekonstabel.

Genl. Khehla John Sitole, nasionale polisiekommissaris, het Donderdag in ʼn verklaring die twee beamptes as “dapper” en “ʼn voorbeeld vir ander” beskryf en as “lede wat die Suid-Afrikaanse publiek met absolute sorg gedien en beskerm het”.

“Namens die hele SAPD-familie wil ek graag persoonlik hulde betoon aan die twee lede wat gesterf het terwyl hulle seker gemaak het dat die Suid-Afrikaanse publiek teen misdaad en die virus beskerm word,” het Sitole gesê. “My innigste simpatie met die families van ons kollegas en baie dankie vir die dekades wat die lede in die SAPD gedien het en dat hulle in hierdie moeilike tye gedien het.”

Sitole het gesê alhoewel die doel van die organisasie is om misdaad te voorkom, bestry en ondersoek, bly die gesondheid, veiligheid en welstand van beamptes ʼn verantwoordelikheid wat die bestuur in ʼn ernstige lig beskou.

Meer as 370 polisiebeamptes het reeds positief getoets vir Covid-19, met die meeste gevalle in die Wes-Kaap. ʼn Afvaardiging van die nasionale bestuurskomitee het die provinsie besoek om die nodige ondersteuning te bied en seker te maak protokol is in plek om die Covid-19-virus doeltreffend te bestuur.

“Dit is bemoedigend dat 55 lede reeds herstel het van die virus. Dit gee vir ons hoop dat die virus oorwin kan word,” het Sitole gesê.

Gereelde nakomingsbesoeke word weekliks by alle SAPD-persele gedoen, insluitend polisiestasies, om seker te maak dat alle SAPD-lede die nodige persoonlike beskermingstoerusting (PPE) het.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Venter ·

Sterkte aan families wat hulle geliefdes verloor het teen covid 19 vir die diens wat hulle verrig het om die virus te bekamp

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.