Twee polisiemanne vas oor moord

Argieffoto: SAPD

Argieffoto: SAPD

Twee polisiemanne van Intsikeni in Kokstad, KwaZulu-Natal, is Donderdag in hegtenis geneem op aanklag van moord, poging tot moord en dwarsboming van die gereg.

“Die mans, onderskeidelik 32 en 35 jaar oud, het op 20 Desember ʼn klopjag op ʼn sjebien uitgevoer,” het Moses Dlamini, woordvoerder van die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod), gesê.

Lede van die gemeenskap het hulle glo by een van die sjebiens aangeval en volgens die polisiebeamptes het die sjebien-eienaar, Luthando Mjoli, ʼn skoot in die polisielede se rigting geskiet. Volgens hulle het Mjoli een konstabel noodlottig gewond en toe weggehardloop.

“Tydens Opod se ondersoek het dit egter aan die lig gekom dat die oorlede konstabel egter deur een van die polisiebeamptes doodgeskiet is,” het Dlamini bygevoeg. “Die polisiebeamptes wat by daardie operasie betrokke was, het valse inligting verskaf toe hulle gesê het Mjoli het die konstabel geskiet.”

Mjoli is ook geskiet deur dieselfde polisiebeampte wat die konstabel doodgeskiet het.

“Mjoli is in hegtenis geneem toe hy by die Intsikeni-polisiestasie opgedaag het om ʼn saak van poging tot moord aanhangig te maak,” het Dlamini verduidelik. “Hy is in hegtenis geneem op aanklag dat hy die polisie aangeval het, maar nie vir moord nie, ondanks die bewering dat hy die konstabel doodgeskiet het.”

Die dossier is na die direkteur van openbare vervolging gestuur wat besluit het dat die twee polisiebeamptes aangekla moet word van moord, poging tot moord en dwarsboming van die gereg. Hulle sal Vrydag in die Umzimkhulu-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.