Twee ‘polisiemoordenaars’ doodgeskiet

Die R5 waarop die polisie beslag gelê het. Foto: SAPD / Twitter

Die R5 waarop die polisie beslag gelê het. Foto: SAPD / Twitter

Twee vermeende polisiemoordenaars is Donderdag in ʼn skietgeveg met die polisie in Johannesburg doodgeskiet.

Lt.kol. Lungelo Dlamini, provinsiale polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê twee mans, wat vermoedelik betrokke was in ʼn skietvoorval Woensdag waartydens twee polisiebeamptes doodgeskiet is, is Donderdag naby die De Hoek-tolhek ingewag.

“Die verdagtes het in ʼn rooi Golf GTI gery. Dieselfde voertuig was Woensdag betrokke by ʼn voorval waartydens twee beamptes, van die polisie se eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele oortredings, aangeval en doodgeskiet is,” het Dlamini gesê.

Die beamptes is ao. Samuel Mchizama (50), met 25 jaar diens in die polisie en konst. Solly Maluleke (40), met 10 jaar diens in die polisie.

ʼn Groep van agt rowers het vroeër ʼn supermark in Dobsonville beroof en in drie voertuie, waaronder die rooi Golf met Noordwes-nommerplate, van die toneel gevlug. Een van die voertuie was kort daarna in ʼn botsing met die beamptes se ongemerkte polisievoertuig betrokke.

Die groep rowers het  op die beamptes losgebrand. Mchizama is op die toneel dood en Maluleke het in die hospitaal aan sy beserings beswyk.

Die rowers het met die beamptes se vuurwapens van die toneel gevlug.

“ʼn Grootskaalse soektog na die verdagtes is van stapel gestuur en met die hulp van die publiek het die polisie inligting ontvang wat tot Donderdag se voorval gelei het,” het Dlamini bygevoeg.

Die gevalle beamptes. Foto: Verskaf

Die gevalle beamptes. Foto: Verskaf

Dlamini het gesê die verdagtes het op die polisie losgebrand toe hulle die polisie gewaar het. Die polisie het teruggeskiet en albei verdagtes is noodlottig gewond.

Die polisie het beslag gelê op die motor en ʼn R5-geweer.

Voorlopige ondersoek het bepaal dat die Golf in Moffatview gekaap is. Een van die verdagtes wat dood is, word ook verbind met ten minste vyf ander ernstige misdrywe, waaronder nog ʼn moord op ʼn polisiebeampte.

“Ons wil die publiek bedank vir hul samewerking. Ons doen ʼn beroep op die publiek om aan te hou om inligting aan die polisie te verskaf deur 08600 10111 te bel of ʼn SMS te stuur na Crime Line by 32211. Mense kan ook hul naaste polisiestasie bel of besoek,” het hy gesê.

Die soektog na die ander verdagtes duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

shane ·

knap gedaan! Dit is hoog tyd dat die mense misdaad SO ernstig opneem… nou is dit net tyd dat hulle plaasaanvalle met dieselfde tipe “force” hanteer!

AmY ·

Kan nie dink dat enigiemand ñ traan oor hulle gaan stort nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.