Twee politici op dun ys

Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad (Foto: Patricia de Lille / Facebook)

Twee van die land se bekendste en kleurvolste politici, Patricia de Lille en Supra Mahumapelo, kan vandeesweek uiteindelik hul poste kwyt wees ná maande lange struweling en intrige.

De Lille, sedert 2011 burgemeester van Kaapstad en ʼn voormalige provinsiale leier van die DA, staar oormôre nog ʼn mosie van wantroue deur lede van die Kaapse DA-koukus in die gesig. Indien sy verloor – wat waarskynlik lyk, want haar steun in die koukus is maar ʼn derde van die totale lede – skop die DA se splinternuwe terugroepklousule (ook by teenstaanders daarvan bekend as die De Lille-klousule) in.

Luidens die nuwe klousule, wat twee weke gelede by die DA-kongres in Pretoria tot die party se grondwet gevoeg is, moet enige DA-lid in ʼn uitvoerende posisie (byvoorbeeld burgemeester of premier) binne 48 uur hul pos ontruim as hulle die vertroue van die meerderheid van hul koukus verloor het. Indien die leier dit nie doen nie, verval die leier se partylidmaatskap, wat in Suid-Afrika se stelsel van proporsionele verteenwoordiging beteken die persoon verloor in elk geval sy of haar setel.

Só ʼn verlies aan vertroue in die uitvoerende leier word gedemonstreer wanneer ʼn mosie van wantroue in die leier deur die betrokke DA-koukus aanvaar word. Voordat die koukus tot so ʼn stap kan oorgaan, moet die DA se federale bestuur daartoe toestemming gee.

Die federale bestuur het verlede week die nodige toestemming gegee en die stemming vind oormôre plaas. As die DA se terugroepklousule geldig is en De Lille bedank nie, behoort sy dus in elk geval teen Vrydag haar pos kwyt te wees.

Daar is twee weë oop vir De Lille. Eerstens kan sy ʼn interdik probeer kry teen Woensdag se koukusvergadering, maar dit sal moeilik wees. Tweedens kan sy die grondwetlikheid (binne die nasionale Grondwet) van die DA se terugroepklousule in die hof bevraagteken, wat ʼn lang, duur en ingewikkelde geveg kan word. Die basis vir so ʼn handeling kan wees dat dit nie die DA of die DA-koukus is wat haar as burgemeester aangestel het nie, maar die Kaapse stadsraad, waar sy steeds meerderheidsteun geniet. Sy sou ook finansiële en reputasieskade kon aanvoer.

Aan die ander kant sou die DA kon aanvoer dat sy as DA-lid in die raad dien en dat die party ʼn vrywillige organisasie is waarin die lid hom-/haarself ondergeskik stel aan die party se dissipline en reëls.

ʼn Verdere vraag is of De Lille die aptyt het om die saak verder uit te rek, en of sy die handdoek gaan ingooi.

Supra Mahumapelo, premier van Noordwes. Foto: ANA

Wat Mahumapelo se posisie as premier van Noordwes (wat hy sedert 2014 beklee) betref, het sy posisie om drie redes die afgelope week stewig verswak, en dan is daar ʼn vierde rede wat die ander drie ondervang.

Die eerste rede is die onthulling dat die wapenvervaardiger Denel ʼn aanbod gemaak het om ʼn groot studielening aan die premier se seun toe te staan. Die tweede is die onthulling dat Mahumapelo glo beeste ter waarde van meer as R1 miljoen wat vir arm opkomende boere in Noordwes bedoel was, aan oudpres. Jacob Zuma geskenk het.

Die derde rede is die openbare geweld wat die afgelope week op verskeie plekke in Noordwes, insluitend in die provinsiale hoofstad Mahikeng, uitgebreek het in protes teen die premier se bewind. Dit het daartoe gelei dat pres. Cyril Ramaphosa sy bywoning van die Statebondsberaad van regeringshoofde in Londen kortgeknip het om die probleem te probeer takel.

Onderliggend aan die drie probleme is Mahumapelo se werklike uitdaging. Hy en Zuma het mekaar telkens ondersteun, en nou is Zuma se mag gebreek, wat Mahumapelo in tamatiestraat laat.

Hy kan deur die ANC as premier onttrek word, en daar is ʼn mosie van wantroue in hom wat oor vier weke in die wetgewer dien, waarin hy uitgestem kan word.

Daar is omtrent drie kaarte oor in Mahumapelo se hand. Hy kan hulle speel – maar nie een is ʼn troefkaart nie.

Eerstens het hy steeds steun in die provinsie – diegene wat finansieel en andersins gebaat het by sy premierskap het baie om te verloor en sal hard veg om hul voordele te behou.

Tweedens het sy ondersteuners ook die vermoë om geweld en plunder los te laat soos ons hierdie week van sy teenstanders gesien het en ongelukkig die gewoonte met politieke geskille in Noordwes geword het.

Derdens kan hy die slagofferkaart speel. Mahumapelo beweer reeds dat Ramaphosa hom teiken net omdat hy vir dr. Nkosazana Dlamini-Zuma teen Ramaphosa ondersteun het in die ANC-leierstryd in Desember.

Dit lyk egter asof Mahumapelo se doppie geklink is, wat beteken twee van die eertydse drie premierliga-premiers (Mahumapelo en Ace Magashule van die Vrystaat) kry streepsuiker.

Dit beteken egter Ramaphosa het nog ʼn groot hekkie oor: Hoe gemaak met die derde lid, David Mabuza van Mpumalanga, wat hom in die presidensie ingewurm het as Ramaphosa se adjunk?

Dáár lê die groot toets vir Ramaphosa se nuwe daeraad van skoon regering.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Casper Labuschagne ·

En so speel die kaartspel tussen Zuma en die res uit, een vir een sal met Zuma se luitenante in die Premiersliga afgereken moet word. Die ironie is dat die twee wat erger gekonkel het as Supra Mahumapelo, is nou adjunk president en ook sekertaris generaal van die ANC. Hierdie kaartspel kan netsowel eindig waar Ramaphosa self uitgevang word sonder nog kaarte wat hy verder kan speel want die ander spelers op die tafel beplan verseker saam aan Ramaphosa se eie ondergang.

Tronktoe ·

See the worry in MY eye .. as jy oneerlik wil wees of enigsins by korrupsie of selfverryking betrokke wil wees en nog UITGEVANG word ook, verdien jy nerens ‘n pos nie .. Jy moet eintlik in die tronk gaan sit soos die GEWONE mense.

Amelia ·

As de Lille weggaan gaan jul sien hoe vou Kaapstad. Blykbaar is dit die plek wat die skoonste is in SA. Hou dai kolletjie dop.

Oom Kalahari ·

So speel die dinge homself uit. Groot oneerlike koppe gaan nog swaai, maar is die regstelsel ondersteunend vir die werklikhede. Korrupsie het SA se doelwit, Misdaad die Missie en grond grype en onteiening die Visie geword. Hoogste bome kry maar die ergste wind.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.