Die Plett Rage in Plettenbergbaai en JBay Rage in Jeffreysbaai is gekanselleer.
Die Plett Rage-saamtrek sou van 29 Januarie tot 6 Februarie plaasvind, maar volgens die organiseerders is dit gekanselleer ná inagneming van plaaslike owerhede se aanbevelings, openbare druk en ʼn versoek van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) rakende die Ballito Rage-gesondheidskwessie.
Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Sondag gesê die Ballito Rage-byeenkoms wat van 27 November tot 4 Desember in Ballito plaasgevind het, was ʼn sogenaamde superverspreider-byeenkoms. Matrieks wat die byeenkoms bygewoon het, is versoek om vir tien dae te selfisoleer en Covid-19-toetse te ondergaan.
Kort daarna is aangekondig dat alle Rage-byeenkomste vir matrieks wat binnekort in Johannesburg, Jeffreysbaai en Plettenbergbaai sou plaasvind, tot verdere kennisgewing uitgestel is.
Die organiseerders van die Plett Rage het egter bevestig dié byeenkoms is nou heeltemal van die baan.
“Dit is vir ons duidelik dat die koronavirus onbeheerbaar is ongeag die voorsorgmaatreëls wat ons getref het om die veiligheid van ons deelnemers te verseker. Die risiko wat dit vir u, ons personeel, ons verskaffers, kunstenaars, asook die groter gemeenskap inhou, regverdig nie die voortsetting daarvan nie.”
Die kansellering van die Plett Rage raak volgens die organiseerders ʼn groot aantal mense, onder wie diegene wat by die fees sou werk en ook vooraf aan die feesreëlings gewerk het. Die Bitou-munisipaliteit en Plett Toerisme ondersteun die besluit om die byeenkoms te kanselleer.
Die organiseerders het gesê hulle bevind hulle in ʼn uiters moeilike posisie rakende terugbetalings. “In die aanloop tot die geleentheid het ons reeds aansienlike koste aangegaan.” Die organiseerders sou graag aan almal al hul geld wou teruggee, maar kan dit eenvoudig nie bekostig om meer as 50% terug te betaal in ooreenstemming met die huidige bepalings en voorwaardes nie.
Vanjaar se kaartjies sal ook geldig wees vir volgende jaar en kan verkoop word wanneer kaartjieverkope volgende jaar open – teen volgende jaar se prys sodat mense 75% kan terugkry.
Die JBay Rage is ook vroeër die week gekanselleer en die byeenkoms se organiseerders het gesê daar sal in die komende dae inligting verskaf word rakende terugbetalings.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
17 Kommentare
So kan die wat matriek gedop het volgende jaar hul kaartjies gebruik!
Stem volkome saam dat die Rage byeenkomste ondeurdag sou wees. Sonder om af te wyk van die onderwerp – tot watter mate is deelnemers aan die Brackenfell Rage ook getoets – of pas dit nie die heersende politieke narratief en stewel-teen-nek maatreëls .
Hie kom hofsake, die verkoop van die kaartjies is n kontraktuele ooreenkoms tussen die verkoper en koper om op n bepaalde dag n diens te verskaf, as die verkoper nie die diens kan lewer nie moet die koper vergoed word siende dat die verkoper hulle kant van die ooreenkoms verbreek het, sterkte met die besluit.
Dit is ‘n moeilike tyd vir almal en ons moet almal opofferings maak. As almal saamwerk sal die pandemie vinniger verby wees en dan kan ons weer aangaan soos normaal.
Darem 1 voordeel van inperking. Ek het al “horror stories” gehoor van wat alles by die post matric rage parties aangaan. Het self een jaar met vakansie in Plettenbergbaai gesien wat alles daar aangaan. Beslis nie dinge wat ‘n posetiewe invloed op die kinders se toekoms het nie.