Twee reuse-dwelmvondse by OR Tambo gemaak

Die pakke metamfetamien wat ontdek is. Foto: Verskaf

Die pakke metamfetamien wat Woensdag ontdek is. Foto: Verskaf

Meer as R16 miljoen se metamfetamien, ook bekend as “crystal meth”, is hierdie week in twee afsonderlike voorvalle deur doeane-beamptes by die OR Tambo Internasionale Lughawe ontdek.

Luther Lebelo, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse inkomstediens (SAID), het gesê die eerste voorval het Sondag plaasgevind toe ʼn passasier voorgekeer is in ’n lukrake bagasie-inspeksie. Die passasier se vlug het pas van Dar es Salaam in Tanzanië geland toe ʼn doeane-beampte hom gevra het om sy bagasie te laat skandeer.

“Nadat die skandering verdagte items getoon het, is die bagasie deursoek. Die beampte het plastieksakke met ʼn poeierstof daarin gevind, wat later as metamfetamien geïdentifiseer is,” het Lebelo gesê. “Daar is beslag gelê op altesaam 34,4 kg metamfetamien ter waarde van R10,3 miljoen. Die verdagte en die dwelms is aan die polisie oorgegee.”

Foto: Verskaf

Die pakke metamfetamien wat Sondag ontdek is. Foto: Verskaf

In ʼn soortgelyke voorval is twee bagasiehanteerders Woensdag in hegtenis geneem nadat 20,6 kg metamfetamien ter waarde van R6,18 miljoen in hul besit gevind is.

“Die bagasiehanteerders het ʼn onbegeleide sak by hulle gehad wat sterk na gom geruik het. Die doeane-beamptes het agterdogtig geraak en die sak laat skandeer. Twintig pakke metamfetamien wat onder T-hemde versteek is, is in die sak gevind,” het Lebelo gesê.

Volgens Lebelo is hierdie slegs twee van talle gevalle waar groot hoeveelhede efedrien en metamfetamien in die land ingesmokkel word. Sedert April vanjaar is metamfetamien ter waarde van meer as R122 miljoen en efedrien ter waarde van meer as R38,5 miljoen deur doeane-beamptes landwyd gevind.

“Die onlangse suksesse kan toegeskryf word aan doeane se strategiese fokus op nie-indringende ondersoektoerusting soos tegnologiese gevorderde skandeerders, meer opsporingshonde, vermeerdering in kapasiteit en beter opleiding van personeel,” het Lebelo gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Helen ·

Gaan niemand ooit leer dat hulle nie deur die doeane kan gaan met hierdie klas van gemors nie!

Miemie ·

WOW!!!! Goed so, sal seker nooit ten volle ontslae raak van die gemors op straat en in ons kinders se skole nie, maar kleiner maat is welgedaan. Nie net vang hulle die grotes nie, maar maak die res bietjie banger. Hulle het begin windgat raak.

BoereBikerBaby ·

Wel gedaan!!! Dis skrikwekkend om te sien wat die waarde is van daardie goed. So bly dis ontdek en daar is minder op die strate wat aan kinders verkoop word.

Pam ·

Ja nee tenminste gaan die gemors nie op ons strate beland en ons kinder “mal” en dood maak nie. Wel gedaan

Gustav ·

Noem dit sommer Tik, dan weet almal waarvan julle praat…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.