Twee Rhodes-studente verdrink

Rhodes-universiteit. Foto: Facebook

Rhodes-universiteit. Foto: Facebook

Twee studente aan die Rhodes-universiteit het verdrink nadat hulle kano op die Settlersdam buite Grahamstad in die Oos-Kaap omgeslaan het.

Luit. Luvuyo Mjekula, woordvoerder van die polisie, sê ‘n nadoodse ondersoek het bevestig dat Rizwan Bhayat (21) en Mohammed Amin Mussa (23) geen fisiese beserings opgedoen het nie. Die polisie vermoed geen vuilspel nie.

Mjekula sê Bhayat en Mussa het Saterdag saam met ‘n vriend, Mohammad Gaffour (19) ‘n kano gehuur by die Thomas Baines-natuurreservaat en op die Settlersdam gaan roei.

Volgens Gaffour het daar glo ‘n sterk wind opgesteek waarna die kano glo omgeslaan het. Hy kon daarin slaag om na veiligheid te swem terwyl Bhayat en Mussa onder die water verdwyn het.

Gaffour het na ‘n nabygeleë plaashuis gehardloop en die polisie gekontak. Nood- en reddingsdienswerkers het onmiddellik na Bhayat en Mussa begin soek maar die soektog is afgelas toe dit donker geraak het.

Mjekula sê Bhayat en Mussa se lyke is Sondagmiddag gevind. Gaffour is na die Settlers-hospitaal geneem waar hy behandeling ontvang het en later ontslaan is.

Die universiteit het sy medelye met Bhayat en Mussa se families en vriende uitgespreek. “Dit is met leedwese dat ek die universiteitsgemeenskap moet inlig oor die tragiese dood van twee van ons studente,” het dr. Sizwe Mabizela, waarnemende vise-kansellier, in ‘n verklaring gesê.

Mabizela sê die oorledenes se ouers en familielede het Sondag in Grahamstad aangekom waar hulle toegekyk het terwyl duikers na die liggame gesoek het.

In ‘n ander voorval is ‘n 21-jarige student van die Walter Sisulu Universiteit dood nadat hy glo Saterdagaand uit ‘n venster by ‘n koshuis gespring het.

Lt.kol. Mzukisi Fatyela, woordvoerder van die polisie, sê die student het uit ‘n venster op die vierde verdieping van die Silimela-koshuis gespring. Fatyela sê ‘n geregtelike doodsondersoek is geopen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.