Twee ‘rowers’ vas na hoëspoed-jaagtog

Argieffoto: SAPD

Argieffoto: SAPD

Die polisie in KwaZulu-Natal het twee vermeende huisrowers in hegtenis geneem en op talle huishoudelike goedere beslag gelê ná ʼn hoëspoed-jaagtog.

Maj. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het gesê lede van die Durbanse honde-eenheid het Donderdagoggend patrollie gedoen in Malandelaweg in KwaMashu toe hulle ʼn verdagte swart Toyota RunX met drie insittendes gewaar het.

“Die beamptes het vir die insittendes gewys om stil te hou. Hulle het egter weggejaag en skote op die polisiebeamptes afgevuur.” Volgens Zwane was die verdagtes se motor kort daarna in ʼn botsing met ʼn ander motor betrokke voordat dit teen ʼn huis gebots het. Die verdagtes het te voet probeer vlug, maar twee van hulle is deur polisiebeamptes vasgetrek.

Die polisie het ook op vyf platskermtelevisiestelle, ʼn PVR-dekodeerder, twee selfone, twee skootrekenaars en ander toerusting beslag gelê toe hulle die verdagtes se motor deursoek het. Volgens Zwane was die verdagtes glo vroeër die oggend by ʼn sakeroof in Greenwood Park betrokke.

Die twee verdagtes wat in hegtenis geneem is, onderskeidelik 20 en 42 jaar oud, sal binnekort in die Durban-landdroshof verskyn op aanklag van die besit van gesteelde goedere, poging tot moord en sakeroof. Die soektog na die derde verdagte gaan onverpoosd voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Peet Schabort ·

Op en wakker polisie wat by die huis slaap en nie by die werk.
Hopelik is die gesteelde goedere nie beskadig na die ongeluk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.