Twee ry glo vinniger as 220 km/h om boeties te beïndruk

Argieffoto (Foto: marionberaudias, Pixabay)

Argieffoto (Foto: marionberaudias, Pixabay)

Twee mans is Sondag in afsonderlike voorvalle in Gauteng in hegtenis geneem nadat hulle meer as 220 km/h gery het.

“ʼn 22-jarige man is Sondag op die N12 in Alberton in hegtenis geneem nadat hy meer as 234 km/h gery het,” het Wilfred Kgasago, woordvoerder van die Ekurhuleni-metropolisie, gesê. Hy het aan beamptes verduidelik hy moet sy boetie by ʼn sokkeroefening in Meyersdal gaan aflaai. Die man het ʼn Volkswagen Scirocco bestuur.

“ʼn 34-jarige man het 221 km/h op die M1 in Midrand gery,” het hoofsupt Wayne Minnaar, woordvoerder van die Johannesburgse metropolisie, gesê. “Hy is Sondagoggend omstreeks 02:00 afgetrek.” Hy het glo aan die beamptes verduidelik hy wou vir sy broer wys hoe vinnig die Mercedes Benz kan ry.

Volgens Minnaar is altesaam 31 bestuurders in Johannesburg aangekeer vir spoedoortredings. Altesaam 308 motoriste is oor die naweek in hegtenis geneem vir beweerde dronkbestuur. “Ons doelwit is om elke naweek minstens 500 persone vir dronkbestuur in hegtenis te neem, aangesien motoriste die verkeersreëls bloot verontagsaam.” Die persone sal binnekort in die verskillende howe verskyn.

Kgasago het gesê ʼn 25-jarige man is in Ekurhuleni aangekeer nadat hy 173 km/h in ʼn Ford Kanga gery het. Die man het aangevoer hy moet ʼn vriend gaan help wat in hegtenis geneem is vir dronkbestuur. ʼn Man in ʼn Mini Cooper het glo teen 166 km/h gery. “Hy het glo die krag van sy nuwe speelding getoets,” het Kgasago verduidelik. Die persone is vrygelaat op R1 500 borgtog en sal na verwagting binnekort in die Palm Ridge-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Ghost ·

Hulle wil elke naweek teminste 500 mense vir dronk bestuur in hegtenis neem. Wat van al die taxi’s en busse wat elke dag onverskillig op paaie ry, oor rooi verkeersligte ry, padreels verontagsaam. Wil hulle nie ook sommer 500 van hulle leke week in hegtenis neem nie.

scalla ·

Sluit hulle toe en trek hul lisensies in, haal die gevaar van die pad af asb

Paul ·

Hoe is die ou wat om 02:00 in die oggend op ‘n hoofweg met vyf bane en ‘n skeiding in die middel 221km/h gery het, ‘n gevaar?
Die voertuig is gemaak om daardie spoed te kan hanteer en die pad is leeg daardie tyd van die oggend.

Die snelheidsgrens van 120km/h is arbitrêr en is gebaseer op rem-afstande wat dekades gelede deur motors met baie swakker remme as vandag behaal is.

Saartjie ·

Moontlik was die persoon wat daardie tyd van die oggend gejaag het, nie ‘n gevaar gewees nie, maar almal moet oor dieselfde kam geskeer word. Wat rem-afstande aanbetref, wil ek noem dat dit eerder steeds geldig moet wees. Ons het ‘n saamryklub en dit het al meer male gebeur dat die drywer die spoedgrens oorskry en dan skielik moet rem vir ‘n voertuig. Die voertuig stop wel betyds, maar ons insittendes verduur meestal intense ongemak in die situasie.

Paul ·

Daar bestaan nie iets soos ‘n Ford Kanga nie. Hulle verwys na ‘n Ford Kuga.

Ai tog ·

Ford Kunga 1 van die warme dae is daar ‘n Ford Kungaroo die een sal sal seker blitsig wees hy spring nie hy ry boetie!!!!

Tammy ·

Is dit nou weer n maklike manier om geld te maak of gaan dit oor veiligheid. Dis bitter min dat mense wat vining ry nie goeie bestuurders is nie. Dis die mense wat 80 op die snelweg ry wat ongelukke veroorsaak en ander om hulle fustreer. Wonder regtig of enige van die haastige bestuurders enige gevaar vir enige iemand ingehou het. Ja, ons het lekker vinnige motors op die pad vandag. Lekker speelgoed!!!!!

CHRISTA ·

As dit so veilig is om so vinnig op die snelweg te ry as dit so laat in die aand is, hoekom is daardie minister en sy lyfwagte dood in ‘n ongeluk wat ook na middernag gebeur het?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.